Bagasiebakmoord: Getuie weerspreek homself in verhoor
Die verhoor in die bagasiebakmoord het vanoggend begin.
’n Getuie in die omstrede bagasiebakmoord het homself vanoggend in die streekhof op Middelburg weerspreek.
Xolile Elias Maduna het aanvanklik gesê dat hy gesien het daar sit iemand voor in die brandende voertuig. In kruisverhoor en nadat foto’s van die voertuig vir hom gewys is, het hy sy getuienis verander en gesê die oorledene was in die bagasiebak.
Die verhoor in die bagasiebakmoordsaak het vanoggend in die streekhof op Middelburg begin.
Danie Maritz is die nag van 15/16 November 2023 by ’n skrootmetaalbesigheid in Middelburg vermoor. Kort na sy moord is Angelique Appelgryn, Alex Grobler en Jan Jordaan gearresteer. Kobus Pretorius is ’n paar maande later gearresteer en Emele Jacobs is ook intussen aangekla.
Appelgryn en Grobler het beide skuldig gepleit ten opsigte van die klagtes teen hulle in pleitooreenkomste met die staat en albei is vyf jaar tronk toe gestuur.
Jordaan, Pretorius en Jacobs het onskuldig gepleit. Jordaan en Pretorius word aangekla van moord en Jacobs ten opsigte van die gebeure ná die moord, waar Danie se oorskot vanaf die toneel verwyder is en in ’n voertuig aan die brand gesteek is. Die brandende voertuig is later langs ’n myn naby Clewer gevind met Danie se uitgebrande oorskot in die bagasiebak.
Maduna, ’n sekuriteitsbeampte, het getuig dat hy die oggend van 16 November 2023 omstreeks 05:30 deur hul sekuriteitsbestuurder gekontak is om uit te gaan na ’n area waar ’n voertuig brand. Hy het gesê dat mnr. Gerhard Joubert en ander sekuriteitspersoneel hom daar ontmoet het.
Volgens hom het die voertuig nog gebrand. Hy het verduidelik dat die voertuig sowat 200m vanaf die heining van Umlalazi Myn (’n myn naby Clewer) gestaan het. Dit is hier waar hy gesê het dat hy gesien het daar sit ’n persoon voor in die voertuig wat brand.
In sy getuienis het hy bygevoeg dat hy die polisie gekontak het en dat hy en die ander mense op die toneel gewag het totdat hulle opgedaag het
Tydens adv. Jan Janse van Rensburg (wat optree vir Jacobs) se kruisondervraging het Maduna sy getuienis verander en gesê dat die oorledene in die bagasieruim gekry is.
Weens verskeie ander deelsverhore wat in die streekhof aan die gang is, kon verdere getuienis in die verhoor nie aangaan nie en is dit na Junie en Augustus uitgestel.
- Mnre. Jaco Kruger en Shadrack Madiba tree vir onderskeidelik Pretorius en Jordaan op.
- Me. Anel Nienaber tree op vir die staat.
- Streeklanddros Deon Minnie is die voorsittende beampte.
