MIDDELBURG ERFENIS: Die week in Middelburg se Geskiedenis
OH Frewin – Skipbreukeling na koerant redakteur - 14 Maart 1960
’n Jong skipbreukeling word koerant redakteur en sterf 66 jaar gelede in Middelburg, op 16 Maart 1960. Hy word beskou as die Vader van Gemeenskap Joernalistiek en ’n baanbreker in plaaslike nuusmedia, veral plattelandse nuusblaaie.
Biografiese Data
Oscar Henry Frewin, die jongste seun van eerwaarde John Frederick Frewin en Annie Frewin née Giles is op 5 Desember 1875 naby Dover in Engeland gebore. Hy was een van sewe kinders.
Hy tree op 19 Mai1904 in Durban in die huwelik met Jane Lakeland.
Die egpaar het vier kinders gehad:
- Aileen May Frewin
- Violet Maud Frewin
- John Lakeland Menzies Frewin
- Rexie Frewin – oorlede tydens die Groot Griep van 1918
Jane is op 22 Julie 1937 oorlede.
Op 25 Maart 1939 tree hy in Witbank weer in die huwelik met Annie Moore née Merchant. Hy is op 14 Maart 1960 oorlede in sy woonhuis in Framestraat 40 in Middelburg.
Kinderjare
Sy vroeë kinderjare bring hy deur in Carlton naby Dover in Kent, Engeland.
Op agtarige ouderdom in Oktober 1883, emigreer die gesin met die Baalarat na Melbourne in Victoria, Australië. Hy gaan hierna skool aan St. Andrews in Bendigo. Hy moes in hierdie periode ook musiekopleiding ontvang het.

Na sy skoolopleiding ongeveer 1895, is hy betrokke by ’n poging om elektrisiteit op die Solomon Eilande te voorsien en werk ook ’n rukkie in die afslaers bedryf. Daarna gaan werk hy vir drie jaar by die Yea Cronicle in Yea, ’n dorp 112 km vanaf Melbourne in Victoria, Australië. (Die koerant bestaan steeds) en doen ervaring op as samesteller (compositor) in die koerantwese.

Hy tree op as orrelis van die St. Luke ’s kerk in Yea.

Die Anglo-Boereoorlog
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het die afsonderlike Australiese Kolonies magte beskikbaar gemaak aan Brittanje. Hy probeer by die 1st Bushman Regiment aansluit. Die regiment is hoofsaaklik in die kolonie Nieu South Wales gevorm en is befonds deur donasies (subscription) van die bevolking. Hy word egter afgekeur as gevolg van ’n hartprobleem. Die regiment van 31 Offisiere, 496 ander range en 570 perde vertrek op 28 Februarie 1900 uit Sydney met twee transport skepe, die Atlantion en die Maplemore.

Die twee skepe bereik Kaapstad op 2 April 1900 en vaar dan verder na Beira in Mosambiek waar die Regiment op 12 April 1900 ontskeep word en via Suid-Rhodesië na die Zuid-Afrikaanse Republiek beweeg.
Hier raak Oscar Henry se verhaal bietjie verwarrend. Hy beskryf dat op die troepeskip, wat perde vervoer het, ’n brand aan boord ontstaan en hy Durban as skipbreukeling bereik. Alhoewel brande op verskeie van die Imperiale Skepe tydens die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, veral in die massas hooi wat vir die perde ingevoer is, is daar geen rekord van so ’n brand naby Durban nie. (Die enigste Australiese skip waar ’n brand ontstaan het was die Mariposa op 20 Mei 1900 by Port Elizabeth.) Dit is wel moontlik dat die Atlantian en Maplemore Durban aangedoen het op pad na Beira om steenkool in te neem en Oscar Henry toe aan wal gegaan het.
Die vraag is ook hoe hy op die troepeskip beland het? Daar word aangedui dat hy afgekeur was om lid van die Regiment te word as gevolg van ’n hartprobleem. (Hy sterf in 1960 aan hartversaking en Cor Pulmonale, dus nie ’n aangebore harttoestand nie, wat die medies ongeskik vir die regiment, moeilik verstaanbaar maak.) Sy naam kon ook nie voor op die nominale rol van hierdie Regiment nie – so hy was nie aan boord as ’n opvarende soldaat nie. Die skepe was Britse handelskepe wat deur die Britse Regering gehuur is om troepe te vervoer. Die skepe het dus hul eie bemanning gehad. Of hy bloot as ’n handlanger (deck hand) op een van die skepe gewerk het om sy passaat te betaal, is ook moontlik, want hy het geen ervaring as matroos gehad nie.


Loopbaan tydens die Anglo-Boereoorlog
Die twee skepe sou Durban bereik het in die eerste week van April 1900.
Met sy aankoms in Durban tree hy in diens van die Natal Advertiser. Na ’n jaar by die Natal Advertiser tree hy in diens van die firma Shinweld & Co en word aangestel as redakteur van die Middelburg Herald – ’n nuwe koerant vir Middelburg. Die eerste uitgawe van die koerant word in 1903 gedruk, deur die Imperiale Garnisoen se drukpers wat op ’n muilwa gemonteer was, met die hulp van korporaal William George Pocock. Die drukpers was deel van die 23rd Coy, Royal Engineers, wat in Middelburg gestasioneer was.
’n Ou drukpers van The Star word aangekoop en arriveer onvolledig in Middelburg. Dit noodsaak die plaaslike grofsmid om die ontbrekende dele uit perde hoefyster metaal te vervaardig!
Hy koop die Middelburg Herald vir £5 en inkorporeer dit in die Middelburg Observer. Die koerant verskyn op 26 Augustus 1904 onder ‘n nuwe naam, Middelburg Observer.

Die koerant word toe besit deur Middelburg Printing and Publishing Syndicate met JH Laver as voorsitter. Met die onttrekking van die Imperiale Garnisoen in 1908 in die opbou na die Eerste Wêreld Oorlog, koop Oscar Henry die drukpers teen £500, waarskynlik op die veiling waar al die garnisoen toerusting opgeveil is. Die 2026 ekwivalent van R 1,6 miljoen!

Na die Oorlog
Oscar Henry koop die Middelburg Observer in Oktober 1908. Die Middelburg Observer word in die Observer Printing Works gedruk deur ‘n enkele jong seun en ‘n swart arbeider!

William George Pocock (1889-1957), die drukker van die 23rd Coy Royal Engineers, verlaat die Britse Weermag op 22 Junie 1904 en tree in diens van OH Frewin as samesteller (compositor). Die drukpers word ingeruim in die ou grasdak huis van JH Coetzee in Coetzeestraat (op die hoek van Cowen Ntuli en John Magagulastraat).

WILLIAM GEORGE POCOCK STAAN LINKS AGTER TEEN PILAAR EN OH FREWIN STAAN REGS AGTER
In 1908 word die naam verander na OH Frewin. (Die firma bly in die familie se besit tot 1999).
In 1918 koop Oscar Henry die winkel van Duvoison en Rabie teenoor Kerkplein, later Roothplein, in Kerkstraat (Walter Sisulustraat). Die gebou huisves die Observer se redaksie en die drukkers-bedryf van OH Frewin. Vanaf die datum is seker omtrent alle drukwerk in Middelburg deur OH Frewin gedoen.


Die lood drukwerk Lyno Type masjiene word voor in die gebou by die groot winkelvensters geplaas. Menige skoolkind van Middelburg het grootoog by die vensters gestaan en kyk hoe die lettertjies op die masjiene rol. Die gebou huisves papier voorrade op groot houtrakke en ’n breë houttoonbank waarop drukwerk uitgepak is. ’n Sirkel trap het na die bo-vloer gelei wat bestaan het uit ’n houtbalkon met houtrelings en ’n groot opening in die middel. ’n Gedeelte is later agter aan die gebou aangebou en verskeie druk en sny masjiene is daar gemonteer.
’n Donkerkamer is ingerig waar alle films ontwikkel en foto’s gedruk, gewas en gefikseer is met die hand en opgehang is om droog te word.
In 1922 word elektrisiteit in Middelburg aangelê en word die gebou geëlektrifiseer en ’n elektriese drukpers geïnstalleer. HH Joubert, burgemeester ten tye, open die elektriese installasie en ’n spesiale uitgawe van die Observer word gedruk.


Oscar Henry raak ook betrokke in die gemeenskap. Hy is lid van die Middelburg United Losie van die Vrymesselaars en dien as Meester van die Losie in 1943-44. Hy was ook die orrelis vir die Vrymesselaars.

Hy word verkies tot die Stadsraad van Middelburg en dien in 1928-1929 en 1937-38 as burgemeester.

STAANDE: LJ VAN ZYL(VERKEERSKONSTABEL); DAWIE DOGTEROM (FINANSIES); ELLIE OOSTHUIZEN (TIKSTER); D DE KOCK; DAN MORKEL; HENRY WIEGAND; JOHNNY CREUX; F SACHSE; AJ VERRYN; VP ROSE (GESONDHEIDS INSPEKTEUR)
MIDDEL: N VAN VEEN (STADSKLERK); HH JOUBERT; OH FREWIN; H LAVER; AJB VD MERWE (BURGERMEESTER) JCS V WOUDENBERG; GERTJIE W MINNAAR; J LINDHOUT
HARRY SUTCLIFFE; ABRAHAM SWERTS; HJ DIEDERICKS; OTTO SACHSE (ALMAL KLERKE)
Ondanks sy besige lewe dien hy vir 40 jaar as orrelis van die St. John’s Presbiteriaanse Kerk in Middelburg.

’n Interessante staaltjie is dat OH Frewin eintlik die eerste burgemeester van Middelburg aangewys het. Met die verkiesing van die eerste Stadsraad van Middelburg in 1903 was daar ’n staking van stemme vir burgemeester tussen HO Eksteen en OC Weeber. Die twee name is toe in ’n hoed gegooi, en OH Frewin, as verslaggewer die enigste lid van die publiek teenwoordig, word gevra om ’n naam te trek. Hy trek toe HO Eksteen se naam uit die hoed en so word Eksteen die eerste burgemeester van Middelburg.
Oscar Henry Frewin en die Koerantwese
Hy verklaar dat dit hom genot verskaf om drukwerk se resultaat as ’n werklike artistieke waarde te sien en nie net as ‘n inkomste nie. Hy roem dat hy as omvattende vakkundige ervaring opgedoen het en nie slegs op ’n enkele komponent van drukwerk nie. Hierdie ervaring deel hy oor die jare met sy personeel. “Daar is niks so wonderliks as om na aan die inkdrom te werk nie”.
As voorstander van gemeenskap joernalistiek bou hy die Middelburg Observer uit na ’n gemeenskapskoerant wat na 122 jaar steeds verskyn. Uit die nuusblad ontwikkel susters nuusblaaie in die area soos die Witbank Nuus, Die Daller, Die Hoëvelder, Koerier en Bronkie.
Hy word as meester drukker aangewys en behaal ’n verstommende 100% in ’n internasionale kompetisie waarin Britse en Amerikaanse drukkerye meeding. In 1927 sluit sy seun Jack by hom aan in die besigheid.
As ’n sterk voorstander van Gemeenskap Joernalistiek is hy jare lank betrokke by die Plaaslike Pers-afdeling van die Nuusblad Pers Unie van Suid-Afrika en dien vir 25 jaar as voorsitter. Hy skenk in 1949 die OH Frewin Wisseltrofee vir koerante.
In 1982 word ’n poging aangewend om die OH Frewin gebou in Kerkstraat (Walter Sisulustraat) te bewaar as ’n museum vir drukwerk en gemeenskapspers. Selfs die steun van die besigheid magnaat dr Anton Rupert kon nie die gebou red van die slopers nie. Die Frewin-gebou en historiese Blake House word gesloop vir ‘n winkelsentrum. ’n Poging om daarna ’n museum in die drukkery van Botshabelo te vestig word gekelder deur ’n grondeis. Uiteindelik is ’n museum vir gemeemskapsnuus gevestig in die nuwe OH Frewin-gebou, met werkende historiese drukperse en fotografiese toerusting.
In 1904 skryf hy aan die Middelburg publiek “We have made a small beginning perhaps, but better a tiny flame that grows in brightness than a sudden flare that dies out as suddenly as it begins.”


Slot
Hy oorhandig in 1960 op 85-jarige ouderdom die leisels aan sy seun Jack en hy is 14 Maart 1960 oorlede en in die Ou Begraafplaas in Middelburg begrawe.


