KYK: Middelburg soek sy ribbetjiebraaimeester
Dorp onthou die dag toe Fanus Rautenbach vir ’n oorpak gevra het om sy rib te eet
Wie is die dorp se bobaas-ribbetjiebraaier?
Daar was al potjiekos- en braaikompetisies, maar nou is Hoërskool Middelburg op soek na die dorp se ribbetjiebraaimeester.
Die groot Ribbraaidag word op 10 Oktober by die skool aangebied. Dit kos R600 per span, met die ribbetjie ingesluit.
’n Span bestaan uit drie lede: die kaptein en twee spanlede.
Vir meer inligting kan Frank du Preez by 076 711 4480 geskakel word.
Die skool se rugbyhoof, Christiaan Gouws, het tong-in-die-kies gesê daar is nou genoeg kiwi’s gebraai – dit is tyd vir ’n ordentlike ribbetjiebraai.
Braaiers wat hul storie ken, sê jy moet weet wat jy doen wanneer jy ’n ribbetjie braai.
Sommige glo jy moet jou rooster langs die vuur vertikaal laat staan en die rib stadig braai totdat hy mooi gaar is.
Ander sê weer jy moet net sout en peper gebruik – geen ander speserye nie – met ’n lekker warm vuur.
Dan is daar braaiers wat voorstel dat jy sojasous, brandrissie en heuning meng, dit oor die rib smeer en die rib dan in foelie toedraai voordat jy dit op ’n matige vuur sit. Draai dit ná sowat 20 minute om, braai vir nog 20 minute en haal dit dan uit die foelie. Sit dit terug op die vuur totdat die sous effens klewerig raak.
Nou ja, wie se metode gaan vir die lekkerste ribbetjie sorg?
Middelburg was lank bekend as die dorp met die lekkerste ribbetjie in die land.
Chuckwagon Restaurant, wat aan Danie Esterhuizen behoort het, het die sappigste ribbetjie voorgesit.
Fanus Rautenbach, aanbieder van die radioprogram Flinkveria, het een middag by Chuckwagon geëet. Toe die sappige rib voor hom neergesit word, het hy Danie nadergeroep.
“Bring vir my ’n oorpak dat ek onder die ding kan inklim en hom soos ’n mechanic eet,” het hy watermond gesê.
