Vrou gaan soek antwoorde op plek waar haar man in motorfietsongeluk gesterf het
'n Soliede stuk teer langs die pd was waarskynlik die oorsaak van Johan van Zyl se motorfietsongeluk wat sy lewe geëis het.
Joey van Zyl het antwoorde gaan soek op die plek waar haar man, Johan, Saterdag in ‘n motorfietsongeluk gesterf het.

Joey is Maandag Groblersdal toe waar sy haar man moes gaan uitken en het sy ook vir die polisie gevra of hulle weet wat gebeur het tydens die ongeluk. Sy is meegedeel dat hulle nog besig is met die ondersoek.
Sy is ook na die toneel toe waar sy probeer sin maak het uit die gebeure.
Joey het talle weergawes gehoor van wat die ongeluk kon veroorsaak het. Een daarvan was dat Johan ‘n draai te wyd geneem het en beheer verloor het oor die motorfiets.
Daar is aanvanklik gedink dat hy die hoop grond met stukke klip en teer langs die pad getref het.
Eenkant, langs die hoop, het egter ‘n groot stuk uitgekapte teer langs die pad in die gras gelê.
Swart merke op die kant van die blok teer bevestig wat kon gebeur het. “Sy voorwiel het die blok teer getref, waarna die motorfiets geflip, uitmekaar geruk en Johan afgeslinger is. Hy is opslag dood. Toe sy vriend om die draai kom, het Johan klaar in die pad gelê.”


Johan het nog sy motorfietsklere en valhelm opgehad toe sy hom gaan uitken het. Wat vir haar vreemd is, is dat sy skoene weg is. Dit is onseker wat daarvan geword het.
- ‘n Roudiens word Saterdag om 11:00 uit die Lighuis gemeente in Middelburg gehou. Motorfietsryers sal om 10:15 in ‘n konvooi vanaf Roseleigh Begrafnisdienste na die kerk beweeg.
