News

Vrou begin huil toe sy flenter graffies sien

Sinneloosheid van vandalisme verstom inwoner: "Wie doen so iets?" word gevra

“Hartverskeurend!”
So beskryf Maureen Haynes van Mid-Oos Grafstene die vandalisering van veral kindergrafte in die Samora Machelstraat-begraafplaas.
Sy het vanoggend gaan ondersoek instel na die skade en op 54 beskadigde grafte afgekom.
“Ek het sommer begin huil,” sê sy.

Beskadigde grafte gratis herstel

Die sinneloosheid van die vandalisme verstom haar.
“Hoe kan iemand klein kindertjies en babas se graffies so stukkend breek?”
Sy en haar span werkers gaan vanmiddag terug na die begraafplaas om die beskadigde grafte gratis te herstel.

Ouers verdriet te spaar

Die meeste van die kopstukke is omgestoot en moet net weer vasgemessel word.
Daar is net drie kopstukke wat onherstelbaar beskadig is.
Me. Haynes sê sy wil die grafte regmaak om ouers die verdriet te spaar, om hulle kindertjies se grafte so te sien.
Indien hulle nie die werk vandag afhandel nie, sal hulle Donderdag terugkeer.

Identiese tweeling op Middelburg ter ruste gelê

Die inwoner wat die video van die beskadigde grafte geneem het, is bekende afgetrede bankbestuurder, Altus Nelson.
Sy tweeling dogtertjies, Chane en Chanelle, is in 1994 vroeggebore en het net ’n dag gelewe.
Hy en sy vrou, Charlotte, het op daardie stadium op Zeerust gewoon, maar hulle het besluit om die identiese tweeling op Middelburg ter ruste te lê.
Die bagrafnisondernemer was die legendariese Alta Coetzee van Saffas of “Alta Saffas” soos sy bekend was.
Twee keramiek engeltjies wat op hulle graffie was is lankal terug beskadig.
Nou is die kopstuk omgestoot.

Bossies groei welig

Dit is egter nie net die kinderbegraafplaas wat deurgeloop het nie, maar ook ouer grafte van veral die Wassenaar en Holtzhausen families, in die ou gedeelte van die begraafplaas.
’n Inwoner, wat anoniem wil bly, sê sy gaan die afgelope 12 jaar gereeld na haar man se graf toe “maar nog nooit het die begraafplaas so sleg gelyk nie”.
Sy sê die gras is weer lank en die bossies groei welig.
Die draad by die nissies is oopgesny en dit lyk asof iemand daar slaap.

Intussen het twee drawwers laerskool seuns gesien wat grafte beskadig.
Hulle is gekonfronteer en het in die rigting van Bloekomsig gevlug.

  • Volgens Wikipedia is grafskending die moedswillige vernietiging of beskadiging van grafte. Grafskending is volgens die Suid-Afrikaanse Wet op Nasionale Erfenishulpbronne ’n misdaad. Die verwydering van (blom)versierings, aangeplante bome, ystertralies of sierhekke word ook hierby ingereken. Elke ongemagtigde ingryp of verandering in die toestand van ’n graf is, maar wel met die plaaslike wetgewing ingereken, ’n misdaad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button