Diewe vlug sonder motorfiets, maar gee hond gif
’n Gesin is woedend dat hul praghond moes boet vir motorfietsdiewe wat in die erf was.
Alhoewel bure se vinnige optrede gekeer het dat ’n motorfiets gesteel word, is die Minnaar-gesin se harte gebreek omdat hul pragtige Alsation by hul huis in Korhaanstraat (Kanonkop) vergiftig is.
Adelle Minnaar sê hulle kon gelukkig hul pit bulterriër, Choppie, deurhaal met melk en geaktiveerde steenkool, maar Max, wat bykans 11 jaar oud was, het dit nie gemaak nie.
Hulle is omstreeks 01:30 vanoggend gewek met hul honde se erge geblaf en het na buite gekyk, maar kon niks sien nie. Die buurman het egter uitgegaan en die booswigte in die erf gesien.
Die buurman se wakker optrede het die betreders laat vlug, maar Max het reeds gif gekry en het gevrek. Choppie het nie die gif gevreet nie, maar het aan Max se speeksel gelek en het siek geword. Die melk en steenkool het gehelp. “Hy wil nog nie vreet nie, maar drink darem die melk wat ons vir hom gee.”

Hulle het later die voetspore gekry waar twee aan die een kant van die erf oor die muur gespring het op pad na die motorfietse toe. Die ander boosdoener het in ’n ander deel van die erf gaan sit, waar hy waarskynlik die gif vir Max gegee het.
