Middies se Blinkwater Boertjies is gereed!
Dié dinamiese uitdaging dryf stywe kompetisie onder Graad 12-leerders.
Leerders van Hoërskool Middelburg plant vandag hul eerste sade in die boerderywêreld.
Elke deelnemer het 5 000 ton ‘kamma’ mielies om mee handel te dryf. Dit skep ’n realistiese beeld van ’n mielieboerdery en hoe die oeste seisoen na seisoen verhandel word.
Met markkondisies wat streng in lyn met statistieke van Graan SA gevolg word, moet dié boertjies behoorlik kophou!
Die Graad 12 leerders gaan vandag, (Vrydag), hul heel eerste tonne prys.
Oor die volgende paar weke gaan markte fyn dopgehou word om uiteindelik 5 000 ton ‘kamma’ mielies te prys en af te lewer.

“Ons as Blinkwater Boertjies is verskriklik opgewonde. Leerders is hard aan die werk en volg daagliks op met die mieliepryse wat op- en afgaan,” vertel mnr. Christiaan Gouws, Landbou onderwyser van Middies.
“Die vraag bly nou, wie se mielies is meer werd?”
Leerders doen waardevolle kennis op in praktiese finansiële bestuur, leer om realistiese besluitneming onder druk te doen en verbreed hul begrip oor die landboumark dinamika. Dit gee hulle ook ’n breër uitkyk op die impak wat mikro- en makro ekonomiese faktore van Suid-Afrika op ’n plaas het.
Boek- en boerwerk berei hierdie volgende generasie van ‘boertjies’ voor. Elkeen word met kritiese denke, sterk strategieë en leierseienskappe toegerus, wat noodsaaklik op ’n plaas is.
Die klaskamer verander op hierdie manier in ’n klein graanhandelsvloer, waar die kompetisie elke week groei.

Aan die einde van die uitdaging in September, stap die wenner van die Blinkwater Boertjie-titel weg met ’n landbouprys geborg deur Blinkwater Meule.
Lees die mark. Weeg jou opsies. Dink soos ’n boer.
Mag die beste Blinkwater Boertjie wen…
