News

‘Hier is ek, Here, stuur my’: Die merkwaardige nalatenskap van adv. Ansie Venter

Soos Simson wat die pilare van ’n gebroke wêreld moes omtrek, het adv. Ansie Venter vir byna vier dekades teen misdaad baklei.

’n Boek sal nie genoeg bladsye hê om te beskryf wat advokaat Ansie Venter vir klaers beteken het in ’n wêreld vol geweld en misdaad nie…’n wêreld waar sy, soos Simson, die pilare van misdaad met die krag van Bo moes omtrek.

“Ek het die stem van die Here gehoor: Wie sal Ek stuur, wie sal gaan, en ek het gesê: Ek is hier, Here, stuur my.”

Hierdie paar honderd woorde vertel net in ‘n neutedop die verhaal van ’n formidabele vrou wat ’n verskil gemaak het; nie net in menselewens nie, maar in die stryd ten renosterstropery.

Plaaswortels en waardes

Sy het grootgeword tussen Hendrina en Ermelo op ’n plaas waar eerlikheid en geloof nie onderhandelbaar was nie.
Huisgodsdiens elke aand en haar pa se liefde vir die natuur het haar gevorm:
“Hy het my geleer ons is deel van die natuur, ons is nie hier om dit te vernietig nie.”

Middelburg: die begin van ’n nuwe lewe

Toe haar man, ds. Carel Venter, as dienspligkapelaan na 4SAI Bataljon verplaas is, het die jong paartjie na Middelburg gekom.

Dit was hier waar haar loopbaan in die Middelburg-landdroshof in 1986 begin het in ’n pienk rokkie en nuwe toga wat geruik het na Dippenaar en Reyeneke se winkel, met sterre in haar oë, min wetend van hoe diep en donker die wêreld van misdaad sou wees.

“Ek het nie die boosheid van die wêreld geken nie,” onthou sy. “My oë het baie vinnig oopgegaan.”

Van droom tot roeping

Sy wou oorspronklik polisie toe gaan, maar haar ma het gesê sy moet eers ’n graad kry en sy het regte gaan studeer.

“Ek dink vandag nog ek sou ’n goeie polisieman gewees het,” maar toe die gogga as aanklaer haar byt, was daar geen keer nie.

Destyds was daar nie seniors en beheeraanklaers nie. Terry Price, later ’n bekende advokaat (hy is in Covidtyd oorlede), was aan haar sy op haar haar eerste dag.

“Hy het uitstelle gedoen voor Vincent Cook wat destyds die landdros was, wat later Belfast se kantoorhoof geword het. Toe hy 11:00 loop het hy vir my gesê: “Jy weet nou wat om te doen, toe is ek op my eie aangewese!”

Daar is altyd ’n manier

“Ek het deur skade en skande geleer,” sê sy.
“Oom Jan Engelbrecht het my vroeg in my loopbaan ingeroep en gevra: Wil jy leer op die regte manier of die maklike manier. Ek sê toe: Die regte manier.” Hy het haar gevra: “Dink jy, jy kan dit vat?” en haar antwoord: “Ja ek dink ek kan…”

Daar was ook ander mentors wat haar touwys gemaak het, soos hofordonanse waar sy oom Arrie Nel, wat ‘n afgetrede hofordonans was, onthou, ervare polisiemanne, tolke en ervare landdroste en “omdat ek wou leer”.

Vir sewe jaar het sy ook aangekla voor landdros George Krause en duisende kilometers saam met hom afgelê agter sake aan in Mpumalanga.

Een beginsel het haar deur haar loopbaan gedra: “Daar is altyd ’n manier. Jy moet net nooit ophou soek nie.”

Adv. Ansie Venter sê sy is nog nie heeltemal gereed vir aftrede nie. Foto: Verskaf.

’n Onortodokse baanbreker

“Ek het nog altyd aweregs gedink, Ek het geglo, die feit dat iets nog nooit gedoen is nie, beteken nie dit kan nie gedoen word nie.”

Sy was die een, “wat begin karring het” aan die destydse prokureur-generaal wat later die direkteur van openbare vervolging geword het, dr. Jan D’Oliveira, dat daar ’n aanklaer aangestel word wat net konsentreer op spesialissake. Daardie tyd het die spesialis-eenhede in die polisie nog bestaan.” Dit was ’n vreemde versoek, want dit was nie ’n konsep wat bekend is in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie.

Dit het Ansie nie ondergekry nie en op 1 April 2007 het hy vir haar die eerste spesialis aanklaerspos in Suid-Afrika geskep en het sy begin as spesialisaanklaer vir georganiseerde misdaadsake.

“Ek het georganiseerde misdaad geëet, geleef en geslaap.”

Sy was een van die outeurs van die Artikel 252A riglyne. Dis die artikel wat werk met lokvalle en bedekte operasies.
Ansie het meestal projekondersoeksake, dwelm- en gewapende roofsindikate en baie samewering van moordsake (veral vroue) hanteer. Sy was onder andere die aanklaer in die Marietjie Hepburnsaak.

Die renosters en Skukuza

In 2008 het die eerste renosterstroop-saak op haar tafel beland en het alles in ’n handomkeer verander. “Dit het my werk geword.”

In 2012/13, “het die renosterepidemie absoluut ontplof. Toe die renosterstroopsweer bars, het my lewe drasties verander. Sake is aanvanklik in die streekhof op Nelspruit aangekla. Ons was twee aanklaers wat dit gedoen het. Ek en Iesebet Erwee.”

Die behoefte was egter groot vir ’n toegewyde spesialishof in Skukuza, maar dis met groot teenstand begroet.
Met die hulp van die direkteur van openbare vervolging in Pretoria en die regterpresident, regter Legodi, is die hof begin.

Dit was aanvanklik ’n klein geboutjie met “groen en wit gordyntjies en geen lugreëling nie, maar dit was ons hof.”

Lang ure was die moeite werd

Met twee jong St Bernards in die huis, kon sy nie meer naweke wegslaap van Middelburg nie en het 04:00 in die oggende gery en na 21:00 tuisgekom.
“Terwyl ek dit gedoen het, was dit reg, want ek wou dit doen. Die lojaliteit en geborgenheid en die bande wat jy daar smee, is moeilik om te beskryf. Jy huil saam, lag saam, sluk saam aan frustrasie, is ten alle tye daar vir jou spanmaats.”

Sy onthou die ongelooflike samewerking met die ondersoekbeamptes, die veldwagters, die spesialismense by die forensiese wetenskaplaboratorium, dr. Cindy Harper by Onderstepoort, mense soos kol. Gerhard Vermeulen en Herman Espach by die forensiese laboratorium wat vir hulle die toneelondersoeke gedoen het.

Vir veldwagters het sy die grootste respek. “Ek het daar gesien hoe hulle nagte deurgewerk het en 40 tot 60km te voet afgelê het om ’n arrestasie te maak.

Internasionale aandag en rolprente

Skukuza het binne ’n kort tydtjie internasionaal bekend geword.

Sy was deel van die dokumentêre rolprent “Stroop” deur Bonné de Bod en Susan Scott, asook internasionale produksies oor vroue in wetstoepassing in Afrika.

Ansie hou nie van glorie nie, maar meld dat sy met mediahuise gepraat het, sodat hulle die verhaal van die renosters kan saamvat en in die wêreld kan vertel”
National Geograpic was daar uit Australië, ’n span uit Hollywood. “Skukuza het nie bekend geword omdat ons wou nie, maar weens die slagting onder die renosters.”

Trane en vrae

Sy het baie by renosterkarkasse gestaan, maar onthou daardie een oggend toe sy op ’n renosterbul langs die pad afgekom het. Sy het gesien hy is gestroop en sy het oor die pad gehardloop. Die bloed het nog gedrup waar hulle sy horing afgekap het.

“Ek het daar gesit en my hart uit gehuil. Ek was kwaad en moedeloos. Jy dink jy maak in elk geval geen verskil nie. Hoekom doen jy dit nog!”

Sy het egter opgestaan, en besef daar is mense wat vir haar omgee en op haar staatmaak. “Al wat jy kan doen is: Ek kan die renosters wreek een renoster op ’n keer, een saak op ’n keer.”

Toekennings

Ansie en Iesebet het in 2015 die tweede prys gekry by die Prins Albert Stigting vir internasionale prestasies op omgewingsgebied. In 2016 ontvang Ansie die trofee vir die verskil wat sy gemaak het in regspleging vir renosterstropery. Sy is aangewys deur die departement omgewingsake as die beste omgewingsaanklaer.
“Die sertifikate en trofeë herinner my aan dit waarvoor ons baklei het en waarvoor ons swaar gekry het.”

Misdaad vat ook aan haar

Syself was ook die slagoffer van misdaad. “Die vrees wat gesaai word wanneer jy ’n slagoffer van misdaad is, gaan nooit heeltemal weg nie.”

In die begin 2000’s het ’n dwelmsindikaat ’n miljoenrand kontrak op haar kop geplaas en moes die polisie haar oppas. Daar is ingebreek by haar huis en al haar juwele en ’n foto-album gesteel. “Die geheim is om aan te gaan en te bly doen wat jy doen. Ten spyte van die vrees, moet jy weet dat jy in die hand van die Here is. As jou werk nie klaar is nie, sal die Here nie dat daar iets met jou gebeur nie.”

Haar raad is dat as jy ‘n slagoffer was, moet jy leer om dit te beheer, dit te erken en daardeur te werk. “Jy leer om aan te gaan. Nie om iets nie te doen omdat jy bang is nie, maar om dit te doen juis ten spyte daarvan dat jy bang is.”

Sake en oomblikke wat uitstaan

Dis vir haar moeilik om te kies tussen al die honderde sake wat vir haar uitstaan. “Daar was kleiner sake wat tussen ander hoë profielsake nie eers aandag sou getrek het nie, wat vir my na aan die hart gelê het en my twee ekstra myle gekos het. Daar was ook groot sake wat maklik gekom het sonder enige moeite, so dis moeilik om te sê.”

Baba met 13 beenbreke: Een van die sake wat sy onthou was die kindermishandelingsaak van ’n sesweke oue dogtertjie, met 13 beenbreuke waar die ma en pa uiteindelik skuldig bevind is.

Dagga-arms: Daar was ook die handel in daggasaak in Blinkpan toe sy ’n jong aanklaer was. Die feite van die saak was dat die vrou wat die dagga verkoop het, dit in koerante toegerol wat as ‘arms’ bekend gestaan en verkoop is as ’n dagga-arm.

Die ondersoekbeampte het al die dagga-arms wat gevind is, oopgerol. Interessant is dat die dagga-arms gemaak is uit een hele koerant se bladsye van voor tot agter!

Stroper skiet op helikopter: Sy onthou die wildtuinsaak waar ’n renosterstroper op ’n helikopter geskiet het, waar die pasassier, generaal Johan Jooste getuig het. Daardie beskuldigde het effektief 37 jaar gekry.

Plaasaanval: Een saak wat haar die res van haar lewe sal bybly is die plaasaanval en verkragting van ’n boervrou en haar en die sewejarige dogtertjie se getuienis. Hulle het die saak eers half 10 die aand klaargemaak.
“Die dankbaarheid dat ons die pad saam met hulle gestap het en ’n skuldigbevinding gekry het, het ’n groot indruk op my gemaak wat my sal bybly.”

By die Bethal streekhof was daar ook die gewoontemisdadiger wat oorgeplaas is net vir vonnis. Hy het net ’n hamer gesteel en sy kriminele rekord het gestrek vanaf 18 tot 60 jaar, waar hy net vyf jaar nie in die tronk was nie.

Sien my net raak‘: Landdros Krause het hom gevra of hy iets ter versagting van sy vonnis wou sê. Sy woorde was: “Ek wil net een ding vra, in my hele lewe het mense net na my gekyk, maar ek dink nie iemand het my nog ooit raakgesien nie. Kan ek net hierdie hof vra of hulle my regtig sal raaksien…”
Ansie het sy verweerde gesig met die plooie, drank en sonbrandspore raakgesien.

Renosterwesie kry ’n bottel: “Die oomblik toe ek my eerste renosterwesie met ’n bottel gevoer het.”

Vrou se keel afgesny: As distrikshofaanklaer was die eerste plaasaanval wat sy moes hanteer ’n saak waar ‘n vrou se keel afgesny is. Sy sal dit nooit vergeet nie.

Samewerking

Haar regterhand in die stryd was veral die polisie, “dis soos jou familie Ons suksesresep was dat hulle net oor die gang kon stap na my kantoor toe. Ons was daar vir mekaar gewees, alle tye. Ek het saam met legendariese en bekwame polisiemanne gewerk soos Danie Hall, Faan Steenkamp en ander wat reeds oorlede is, soos Thinus Rossouw. Selfs saam met Obed Ngwenya wat nou ’n generaal in die Oos-Kaap is.”

‘Aftrede’ en ‘n nuwe hoofstuk

“Aftrede is ’n ander ding. Ek het by vriende wat afgetree het gehoor dis een salige ervaring, jy wil nooit weer werk toe gaan nie. Ek moet nog daar kom, ek is nog nie daar nie.”

Dit is vir haar lekker om dorp toe te gaan so teen 11:00 en nie skuldig te voel omdat sy nog nie in die kantoor is nie.
“En nee, ek gaan nie beskuit bak nie! Vir nou vind ek nog my voete, ek pak 40 jaar se kaste en ruk my tuin reg. Ek haal ook 40 jaar se kaalvoetloop op die gras in.”

Sy is nog nie heeltemal ‘afgetree’ nie. Ansie het reeds gaan lesings gee in renosterverwante sake in Limpopo en oor ’n maand of wat gaan sy ook lesings gee in Gauteng.

“Ek kry nog baie oproepe van polisiemanne wat vir algemene raad en menings vra wat ek met liefde gee. Mense dink as jy aftree dan tap hulle al jou ervaring en kennis uit en dan weet jy niks meer nie. Ek wil nog al my kennis en dinge wat ek geleer het, deel met ander.”

Hoe Ansie onthou wil word

“Ek wil graag onthou word as ’n doodgewone aanklaer wie se werk haar passie en haar roeping was, dis al hoe jy ’n sukses daarvan kan maak.”

Haar boodskap aan ander?

’n Slagspreuk wat sy altyd by haar gehou het en wat sy uitleef is: “To know that one life breathes easier because of what you did, that is to have succeeded.”

Middelburg bly haar dorp

“In Middelburg was ek deur die jare gesins- en huweliksberader, finansiële raadgewer, ’n oor vir baie mense. Nasaret se inwoners het my ook na aan die hart gelê Hulle het my vir baie jare ‘Mevrou Ansie” genoem.

Sy is dankbaar vir die liefde, omgee en ondersteuning wat sy en haar man in Middelburg ontvang het.

“Middelburg Landdroskantoor sal altyd maar my kantoor bly, dink ek. Ek is trots op wat ons in Middelburg gedoen het.

Sy dink so bietjie na en sê dan: “Daar is ’n gesegde wat sê: ‘Wherever Middelburgers go, they shine’, en ek wil dit graag beklemtoon, ek dink ons het ’n wonderlike dorp en mense.”

“En nee, ek en Carel gaan nie die ‘Huisie by die See’-ding doen nie. Ons tree af in ons huis met ons groot erf en klomp troeteldiere waar ons nog altyd gebly het…”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button