News

MIDDELBURG ERFENIS: Die week in Middelburg se Geskiedenis – 20 April

Dynamite Jack – Jack Hindon - ‘n Boere-held in die Oorlog en ‘n vergete armlastige in sy sterwensjare! - Gebore 20 April 1874

Oliver John Hindon is op 20 April 1874 in Logie, Skotland gebore. Hy was die seun van Thomas Hindon en Elizabeth Thomson. Hy sluit by die Britse Leër aan as ‘n “drummer boy”. Aangesien sy vader Thomas Hindon waarskynlik ook ‘n lid van die Royal Scots of die Royal Scot Fusilliers was, is hierdie loopbaan keuse sinvol. Dit is onseker op watter ouderdom hy aangesluit het, maar ten tye is seuns van 12 in diens geneem as “drummer boys”. Die “drummer boys” was verantwoordelik om bevele per drom of per beuel aan die soldate te herlei.

Op 14-jarige ouderdom, dus ongeveer 1888, is sy eenheid in Zoeloeland ontplooi as deel van die 1888-89 Zoeloe Burger-Oorlog (uSutho Rebellie). Die rantsoene was beperk tot swak vleis en droë beskuitjies. Die “drummer boys” moes ook na ‘n veldslag as baardraers optree en gewondes gaan soek en aandra na die mediese poste. Hindon kom in konflik met die Sersant Majoor en hy en ‘n paar ander seuns dros. Hul besluit om te dros moet dus teen hierdie agtergrond van swak behandeling gesien word.

Nadat hy uit die Royal Scots dros, loop Hindon vanaf Utrecht na Marthinus-Wesselstroom (Latere Wakkerstroom), ‘n afstand van 55 km. In 1887 word daar gebou aan die nuwe Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk (die naam van die ten tye saamgesmelte NG en Hervormde Kerk) in Wakkerstroom deur ‘n Mnr Cloete. Hindon werk vir twee jaar in Wakkerstroom by Cloete.

Teen 1891 soek Hindon onsuksesvol  werk in Johannesburg, gaan werk hierna in die Vrystaat waar hy betrokke is by die bou van brûe vir die spoorlyn na Vereeniging en daarna by die bou van brûe op die Oosterlyn tussen Pretoria en Delagoa Baai (Maputo). Hy doen Malaria op en verhuis op mediese advies na die Hoëveld en werk aan die bou van die NSAZM tonnel by Waterval-Boven. Hy vestig hom hierna in Middelburg.

In Desember 1895 mobiliseer hy as deel van die Middelburg Kommando in respons tot die Jameson-inval, as deel van Veldkornet Thys Pretorius van wyk 1, Steenkool spruit se groepering. Weens sy mobilisasie vir die Kommando ontvang hy burgerskap en stemreg in die Zuid-Afrikaanse Republiek.

Hindon sluit hom hierna aan by die Rijdende Polisie van die Zuid-Afrikaanse Republiek en dien op die Oosterlyn tussen Middelburg en Barberton.

A late 19th-century soldier in a uniform with crossed white straps and dark boots, stands with hands at sides. The image is formal and stoic, evoking historical military pride.
FOTO 1: JACK HINDON AS LID VAN DIE RIJDENDE POLISIE (FOTO: (PRELLER, 1942))

Hy mobiliseer op Saterdag 30 September 1899 as deel van die Middelburg Kommando, ter voorbereiding tot die Anglo-Boereoorlog, vanaf die Middelburg Stasie,  Hulle vertrek per trein via Pretoria na Sandspruit naby Volksrust waar hy op 2 Oktober 1899 aankom en die Boere magte konsolideer vir die inval in Natal.

Hy is betrokke by die gevegte in Natal, word lid van die Edwards-verkenners, daarna die Danie Theron-Verkenners en veg later ook in die Vrystaat.

Kort hierna (onbekende datum) word Hindon deur generaal Louis Botha tot Kaptein bevorder en mag gegee om ‘n Verkennerskorps van 50 man te vorm. Die amptelike naam van die Korps was die Transvaalse Vrywilligerkorps en sluit ander bekende Middelburgers in soos Henri Slegtkamp. Die Korps is by verskeie waaghalsige operasies oor ‘n baie wye gebied betrokke, insluitend verskeie aanvalle op treine en sabotasie van spoorverbindings. In hierdie rol staan hy as Dynamite Jack bekend alhoewel hy ontken het dat hy ooit self dinamiet hanteer het. Sy korps frustreer die Britse kommunikasielyne deur telkens treine te ontspoor en vrag te buit. Hulle opereer tot net noord van Pretoria by Pyramid, op die spoorlyne om Balmoral wes van eMalahleni, tot verskeie aanvalle oos van Middelburg. Van hul aksies sluit ook in om hele Boere-kommando’s met ossewaens, perdekarre en kanonne oor die spoor by Uitkyk, net suid van Middelburg te lei, terwyl die dorp beset was deur die Britte.

In ‘n waaghalsige operasie sluip van die Korps-lede die dorp binne en buit ‘n groot hoeveelheid perde net suid van die huidige tronk, en jaag hulle deur die rivier na Doornkop. Hindon self kom besoek die dorp te perd in die nag, tussen die Britse wagposte deur en besoek die Oud-Volksraadslid oom Hendrik Boshoff in sy huis in Weeberstraat!  Die Korpslede buit ook ‘n groot trop beeste onder die neuse van die Britte, net noord van Mijerbrug en jaag die trop oor die kop! Op 15 Mei 1902 vind die eerste Vredeskonferensie by Vereeniging plaas. Op 16 Mei 1902 maak Hindon kontak met Britte en vra vir amnestie, omdat as gedroste Britse soldaat en tegnies ‘n Britse burger, daar ‘n risiko was dat hy tereggestel kon word. Hindon gee hom oor aan die Britte, met die opmerking aan sy Korps “broers ek het my oorgegee aan die vyand … om my lewe te red”. Kitchener ontmoet hom en verleen amnestie aan hom. Na die vredesluiting keer Hindon terug na Middelburg.

A distinguished man with a curled mustache wears a wide-brimmed hat and a textured suit, gazing confidently. The sepia tone evokes a vintage feel.
FOTO 2: JACK HINDON KORT NA DIE OORLOG (FOTO: (PRELLER, 1942), GEKLEUR JENNY BOSCH)

Na die Oorlog

Op 23 Februarie 1903 tree hy in die Presbiteriaanse Kerk in Langstraat (SADC Straat) in Middelburg, in die huwelik met Pauline Coetzee.

A vintage wedding photo features a solemn couple. The groom wears a blue suit with a pink boutonniere, while the bride, in lace, holds a bouquet.
FOTO 3: TROUFOTO VAN JACK EN PAULINE HINDON 23 FEBRUARIE 1903 (FOTO: (GROBLER, 2002) )- KI GEKLEUR)
Dirt road lined with a church and houses on Long Street, Middelburg. A solitary figure walks with a dog under a clear blue sky, evoking a serene rural scene.
FOTO 4: PRESBITERIAANSE KERK IN LANGSTRAAT (SADC STRAAT) (FOTO: REX HILLIGAN – KI GERESTOUREER EN GEKLEUR)

Hindon vertrek in 1904 na Amerika en Nederland. Hy is betrokke by die “Boer War Circus” in 1904 in St. Louis, Amerika om inkomste te probeer verdien. Hierdie was ‘n sirkus-tipe program waar gevegte uit die Anglo-Boereoorlog nageboots is met ondermeer ook generaals Piet Cronje en Ben Viljoen. Die sirkus speel egter op Coney Eiland bankrot. Hierna woon hy vir ‘n periode by Iers-Amerikaners in Amerika, voor hy genoeg geld het om terug te keer na Middelburg.

A man in an early 20th-century suit, seated and gazing to the side, exudes confidence. Image is colorized, with "Colour by Tinus le Roux" noted.
FOTO 5: JACK HINDON NA DIE VREDESLUITING IN AMERIKA (FOTO: (PRELLER, 1942) GEKLEUR TINUS LE ROUX)

Hindon en Blake House

Na sy terugkeer uit die buiteland, bedryf Jack en Pauline ‘n losieshuis in Middelburg, bekend as Blake House. Dit is onbekend of Pauline reeds die losieshuis bedryf het gedurende die periode wat Jack in Nederland en Amerika was.

Foto 6: Blake House regs op foto met Kerkstraat (Walter Sisulu straat wat suid strek (Foto: Epstein Poskaarte Rex Hilligan)

Die oorsprong van die gebou kon nie bevestig word nie, maar dit is waarskynlik voor die oorlog opgerig deur ‘n spekulant van Kaapstad, Robert Blake Jr. (1865-1900), wat ook in die Zuid-Afrikaanse Republiek en in Sekukuniland bedrywig was. Hy sterf op 15 Oktober 1900 in Kaapstad en sy eggenote Anna Susanna Blake word die eienaar. Sy stel die gebou tot beskikking van Jack en Pauline, wat die losieshuis bedryf vir etlike jare.

Vintage sepia portrait of a young man in formal attire; he has neatly combed hair and a solemn expression. The oval frame reads "Cobb Studio."
FOTO 7: : ROBERT BLAKE JUNIOR (1865-1900) (FOTO: GENI – KI GERESTOUREER)
FOTO 8: ANNA SUSANNA BLAKE (NÉE VAN DER WESTHUIZEN) (FOTO: GENI – KI GERESTOUREER)

Jack Hindon ontwikkel egter, waarskynlik, veelvuldige sklerose en verloor ondermeer die gebruik van sy hande en sekere gesigspiere. Hy is hierna in ‘n rystoel gekluister en totaal afhanklik van die versorging deur Pauline.

Historic stone buildings with metal roofs and a balcony stand amid sparse greenery on a rural landscape, conveying a sense of rustic serenity.
FOTO 9: BLAKE HOUSE EN AANGRENSENDE GEBOU CIRCA 1905 TOE JACK EN PAULINE DIE LOSIESHUIS BEDRYF HET (FOTO: ROSE ANTROBUS – LAVER VERSAMELING)

Hulle voer nou ‘n sukkel bestaan. Hy val, volgens vertelling, uit die rystoel en breek sy heup. Die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) in Middelburg ontferm hulle oor die egpaar. Die SAVF samel geld in en hy word in die Zuid-Afrikaanse Hospitaal in Pretoria geopereer. Hy ontwikkel egter ‘n inwendige bloeding en sterf op 2 Februarie 1919 in die hospitaal. Hy word op 21 Maart 1919 uit Blake House in die Ou Begraafplaas van Middelburg, begrawe.

A stone grave with an engraved headstone sits in a grassy area. The text mentions "Kaptein Jack Hindon" and "Oliver John Hindon, 1874-1919." Stones fill the rectangular area, evoking a solemn mood.
FOTO 11: HINDON SE GRAF IN DIE OU BEGRAAFPLAAS- MIDDELBURG-WES (FOTO: RUDI VAN WYK)

In sy testament gee en skenk hy Blake House terug aan AS Blake “die het gemelde huis aan my oorspronklik gegeven heeft”.

Sy boedel dui aan hoe arm hy was, met die bates van £19 in spaarrekening, ‘n servetring, ‘n vulpen, ‘n skildery van die Vrystaat Wapen en twee honde!.

Pauline Hindon na Jack Hindon se dood

Met die dood van Jack Hindon, word Blake House oorgedra aan Anna Susanna Blake.

Pauline woon nou in ‘n huis direk langs Blake House.

Dit wil voorkom of Blake House na 1919 vir ‘n periode onder ander bestuur was, maar teen 1926 adverteer Pauline in die Middelburg Observer dat Blake House weer oop is vir losies en onder haar bestuur is. Dis onbekend hoe lank sy die losieshuis nog bedryf het, maar sy werk hierna as die eerste bibliotekaresse van die plaaslike Munisipaliteit teen ‘n salaris van £9.18.8 (Nege Pond, 18 sjielings en 8 pennies) per maand! Sy werk nog tot op die ouderdom van 71 jaar, toe sy op 13 Augustus 1951 oorlede is. Sy was algemeen in die dorp as “tannie Pauline” bekend. Sy was brandarm en haar boedel dui ‘n skamele 7/6 (75 sent) in haar posbankrekening aan. Sy is in die Ou Begraafplaas Middelburg begrawe, maar geen grafsteen is vir haar opgerig nie. Middelburg Erfenis het Blou Erfenis Bordjies by beide Jack en Pauline se grafte geplaas.

Historic building with Victorian architecture and red roofs in a sunny, deserted street. The structure features arched windows and a wraparound balcony.
FOTO 12: BLAKE HOUSE KORT VOOR DIT GESLOOP IS OM PLEK TE MAAK VIR DIE HUIDIGE BUILD IT – KOMPLEKS

Jack Hindon, ‘n Boere-held na die Oorlog raak gou vergete en sterf as ‘n armlastige, sy vrou wat hom met deernis versorg het, worstel voort voor sy ook brandarm sterf.

Soveel oorlogshelde deur die eeue het ongelukkig die selfde lot beleef en gou uit ‘n volksgeheue verdwyn…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button