News

Die Week in Middelburg se Geskiedenis – 4 Mei 2026

Genadejare sonder perke: die eerste 50 jaar van Middelburg Hoër Tegniese Skool

In April 1927 kom HTS tot stand – soos die strofe uit die skoollied (wel veel later eers geskryf) aandui “ons wil werk en dien en koershou” – is die skool nou 99 jaar later steeds op koers. Van ’n skamele begin tot “ons wil saamwerk, saamstaan, fier die lewe ingaan”!

Beginjare in Belfast (eMakhazeni)

Teen 1918 is die Smuts-Onderwyswet in die Transvaal Kolonie in plek en funksioneer sogenaamde Free Schools of dorpskole in die meeste dorpe, so ook in Belfast.

Op 5 Februarie 1918 is mnr. Wietse Sieger Lampen (1867-1938) aan die Belfast se Dorpskool as houtwerkinstrukteur aangestel. Vir hom was dit ’n totale nuwe ervaring, want hy was eintlik ’n aannemer en bouer sedert hy in 1885 uit Hermijnen, Nederland geïmmigreer het. Ongelukkig het die Eerste Wêreldoorlog sy tol geëis: hy was verplig om in Suid-Afrika sy kontrakwerk te staak en te gaan boer.

Soos baie skole nou nog maak, haak Belfast se Dorpskool kundige, bruikbare, opgeleide, bereidwillige mense nader om met onderrig te help. Gevolglik word mnr. Lampen ’n onderwyser!

Vanweë sy kundigheid kon hy onmiddellik die leemte aan kundige vaklui/ beroeps-gerigte ambagslui raaksien. Smiddags het hy seuns wat swak gevaar het in ander vakke, begin help en hulle aangemoedig om hulle toe te lê op messel-, hout- en metaalwerk. In verband met die laaste vak het hy die hulp van ’n ervare wamaker, grof- en hoefsmid, oom Frikkie de Witt, ingeroep.

Foto 1: Metaal waband word om hout wawiel gekrimp – ‘n unieke kundigheid van ‘n wamaker (Foto: Eric Holm)

Die destydse Skoolraad van Lydenburg-Suid het mnr. Lampen se pogings ondersteun en ’n
Ambagskool met mnr. Lampen as hoof gestig. Oom Frikkie het ’n deeltydse
leerkrag geword.

Foto 2: Wamakersgereedskap uit die era. Meetwiel om die binne omtrek van ‘n waband te meet (Foto: Eric Holm)

By die Ambagskool is selfs ’n koshuis opgerig. Leerlinge van so ver as die Rand en Pretoria het by die Ambagskool ’n tuiste gevind. Hoekom? Die hoof was versiende met ’n visie vir daardie tyd wat eintlik verbyster – hy het hom daarvoor beywer dat elke seun op die platteland hom in alle opsigte self moes kan help: self stene maak, hout uit ’n boomtak/-stomp saag en dan bewerk tot ’n netjies afgewerkte meubelstuk of artikel. Natuurlik is hy heelhartig ondersteun deur mnr. De Witt wat vir die metaalwerkafdeling verantwoordelik was.

Dit was die laaste kwartaal van 1918. Die meeste van die seuns wat aan die Ambagskool onderrig is, het puik handearbeiders geword en kon op enige plek in die land kompeteer met geskoolde werkers. Sommige het binne ’n jaar voormanne in groot besighede geword, onder andere in ’n welbekende wamakery in Pietermaritzburg en ’n ander in die meubelfabriek van T. W. Beckett te Pretoria!

Intussen het die Dorpskool gegroei tot ’n volwaardige hoërskool – en dit het baie gou geblyk dat Belfast nie genoeg kinders het om beide skole te voed nie.

Die Ambagskool skuif na Middelburg

In 1926 het die Unieregering die Ambagskole van die provinsiale owerhede oorgeneem. Die destydse sekretaris van Unie-Onderwys, mnr. George Hofmeyer, begin navraag doen oor die moontlikheid om ’n Ambagskool in Middelburg te vestig. Hy doen navraag by eerwaarde Willie Bruwer, destydse sendingleraar in Middelburg, en latere senator, oor die moontlikheid. Eerwaarde Bruwer word gevra om die leiding te neem in die vestiging van die Ambagskool.

Na samespreking met mnr. JG de Vos, Inspekteur van Onderwys in Middelburg, word ’n komitee gestig om die skool te vestig, bestaande uit eerw Bruwer; mnre. W.T. Crocker as voorsitter van die Skoolraad; C.A. Winter, hoof van die Hoërskool; F.A. Grundling, hoof van die Afrikaanse Laerskool; en JP van der Merwe. Daar word besluit die Ambagskool te Belfast moet na Middelburg oorgeplaas word. ’n Erf van die Departement Openbare Werke en aanliggende erwe is aangekoop.

Foto 3: Eerwaarde Willie Bruwer, later Senator, dryfkrag agter die daarstel van die Ambagskool in Middelburg (Foto: NG Kerk Middelburg)

Die Middelburg Observer berig op 10 September 1926 die volgende:

Trades School.
It is rumoured that Belfast is going to lose its Trades School, which is being transferred to Middelburg. It will undoubtedly be a loss to the town from many aspects. It is stated that the Government is going to centralise. Middelburg will be the Trades School Centre of the Eastern Transvaal, and it will be fed from Lagersdrift, Britz, etc.

Só kort en kragtig is die nuus aangekondig.

Die skool het in April 1927 geskuif na ’n ondoeltreffende sinkgeboutjie net suid van die spoorlyn – volgens die Skooljoernaal ’n “gebou” wat aan die Transvaalse Werkedepartement behoort het; min of meer daar waar die huidige geboue staan. ’n Koshuis is in ’n privaatwoonhuis, nóórd van die spoor, ingerig.

Só begin Hoër Tegniese Skool dus amptelik as ’n Wamaker-en-Ambagskool in 1927 met mnr. Lampen as hoof en ongeveer vyf seuns.

“Tradies” begin en groei vinnig!

Spoedig het die seuns aangegroei tot 20 – Middelburg het geblyk ’n goeie keuse vir die skool te wees! In daardie beginjaar is onderrig in net twee tegniese studierigtings aangebied, wamakery en houtbewerking. Die skool het uit twee klaskamers en twee werkswinkels bestaan.

Na mnr. Lampen se aftrede, weens ouderdom, ’n paar maande later, word mnr. S.J.H. Mostert hoof van September 1927 tot Desember 1928.

In 1930 is mnr. J. Pretorius die hoof. Vier onderwysers, drie administratiewe personeellede en ongeveer 65 seuns span hulle gesamentlike krag in om die skool te laat ontwikkel, Etlike vakrigtings word aangebied: houtbewerking, smedery en kleremakery. (Kom kyk gerus hoe netjies die leerders self hulle skoolbaadjies gemaak het). Die wamakery is nie afgeskeep nie: trouens dit was so goed op dreef dat ’n bestelling vir ’n bokwa teen £80 ontvang is, terwyl die smidswinkel tydig en ontydig deur boere besoek is.

Foto 5 Personeel 1930 (Foto: Skooljoernaal – Foto KI gekleur)

Agter: Mnre Buks Pretorius (Hoof); van Rooyen (Kleremakery); Smalberger (Kabinetmakery); JJ Eksteen; Huddle (Administratief)
Voor: Mnre E. Dickason (Smidswerk en wamakery); Krige
[Alhoewel mnr Huddle administratief was het hy as nood druk, sommer klas gegee ook. In die oë van die smede was daar nooit iemand beter as mnr Dickason gewees het nie]

In 1931 groei die leerlingtal na 72 – waarvan net ses dagskoliere was,

Dit het tyd geword vir ’n eie koshuis súid van die spoor. Op 15 Februarie 1932 word die nuwe koshuis ingebruik geneem – Huis Buks Pretorius bied slaapplek vir 60 leerders en eetplek vir 120.

Op 9 September 1932 neem die Minister van Onderwys, dr. D.F. Malan, die amptelike opening van die koshuis waar. Hy plant selfs ’n plamboom voor die koshuis – vandag nog te sien, hoewel daar nou ses palmbome staan.

Foto 6: Dr. D.F. Malan plant ‘n palmboom voor die koshuis  – 9 September 1932 (Foto: Skooljoernaal – Foto KI Gekleur)

Hoe verras sou mnr. Lampen en oom Frikkie wees as hulle vandag kon sien wat suid van die spoorlyn gegroei het. ’n Skool wat dien, wat steeds hoogs gesogte ambagslui oplei, wat uitgebrei en gegroei het tot ’n tegniese krag waarmee in Suid-Afrika rekening gehou moet word.Wonderlik die visie en versiendheid van een mens, (En is ambagslui nie vandag SA se hoogste noodkreet nie?)

Foto 7: Tentoonstelling 1936: ossewa met perdewatang, ‘n skotskar en 2 perdekarre vervaardig deur die smede en wamakers (Foto: Skooljoernaal – Foto KI gekleur)

Teen 1944 ontwikkel die Ambagskool na die Hoër Tegniese Skool. Die skool bied nou ’n wye spektrum van vakrigtings aan. Soos getalle gegroei het, moes die geboue en terrein noodwendig uitbrei. HTS is seker een van baie min skole in die land wat kan spog daarmee dat personeel en leerders die saal (die ou saal tussen die werkswinkels), sommige nuwe werkswinkels en die huidige tekenblok sélf opgerig het.

Foto 8: : Eetkamertafel en -stoele van eikehout deur die leerlinge vervaardig. Tot onlangs in die hoof se kantoor – nou geskuif na konferensielokaal (Foto: Skooljoernaal – Foto KI gekleur)

Eerste 50-jaar se suksesse

Foto 9: Die ou Hoofblok soos dit oorspronklik van die straat af gelyk het (Foto: Skooljoernaal – Foto KI gekleur)

Gedurende die eerste 50 jaar het 16000 leerders hulle onderrig aan hierdie skool ontvang. Baie van die oudleerlinge het gedurende dié 50 jaar teruggekeer: hulle het altyd met “trots en lof van dié skool wat hulle vir die toekoms voorberei het” (aangehaal uit mnr. Z.L. Benade se Voorwoord in Tegnuus – 1977), gepraat.

Baie hooggeplaaste gaste het dikwels by die skool ’n draai gemaak. Hulle het die skool besoek, bepaalde funksies verrig of as sprekers opgetree: dr. D.F. Malan (het ’n palmboom wat steeds vertroetel word, voor die eerste seunskoshuis geplant), genl J.B.M. Hertzog, genl. J.C. Smuts; ook ’n latere Eerste Minister, B.J. Vorster, het hier kom kuier.

Foto 10: Minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap, mnr. J.H. Viljoen ontsluit die deur van die sierlike nuwe gebou by HTS Middelburg. [Foto: Die Vaderland 11 Nov. 1950]

Die tradisie van die skool om self voorsiening te maak vir lokale en werkswinkels, is voortgesit toe die personeel en leerders self ’n yslike swembad gebou het.

Foto 11: Die swembad is in gebruik geneem op 30 Sept. 1955 – en hét die seuns baljaar! (Foto: Skooljoernaal)

Die skool staan glad nie agter in die ry op kultuurgebied nie. Vanaf die vroeë jare sestig is die keurige skoolkoor ’n bron van trots. Die koor onderneem verskeie toere en in 1968 word ’n langspeelplaat deur die koor opgeneem. Op toneelgebied presteer die skool met verskeie toneelopvoering, soos in 1967 se opvoering van Shakespeare se Twaalfde Nag in Afrikaans met verskeie onderwysers en seuns in die hoofrolle. Wie kon Sir Tobie Wynvat en Sir Andries Bibberbakkies vergeet!?

Foto 12: Die Skoolkoor van HTS olv Attie Visser en Truida Malan neem in 1968 ‘n langspeelplaat op (Foto: Truida Malan)

Die hoogtepunt van die 50-jarige bestaan van die skool, op 6 September 1977, was die ingebruikneming van die Z.L. Benadé-sportstadion.

Die kompleks het sy ontstaan te danke aan mnr. Benade wat in 1972 as hoof aangestel is. Mnr. Benadé het dadelik die idee geopper dat die skool sy eie pawiljoen moet bou – ’n idee wat groot byval by personeel én leerders gevind het. Die skoolleuse is mos nie verniet “Ons dien” nie? Bouwerk het reeds in Februarie van 1972 begin. Onder die bekwame leiding van die tegniese personeelkundigheid – mnre. J Kruger, P. Olivier, S. Schutte, P. Steyn, W. Meyer, R. Lines, J. Coetzee, J. de Langen, P. van der Westhuizen, J. du Toit, P. Grobbelaar en W. Wood is ’n spogpawiljoen opgerig, wat vandag steeds ’n monument is vir die onverpoosde arbeid van mense wat glo dat ’n ideaal verwesenlik móét word.

Raadslid Piet Bezuidenhout, toe reeds ’n oudskolier van die skool, het eiehandig die kleedkamers gebou,

Foto 13: : Inwyding van die pawiljoen en viering van die 50-jarige bestaan van die skool. Prof. J. H. Jooste onthul die gedenkplaat (Foto: Skooljoernaal)

Op 6 September 1977 was die Direkteur van Onderwys van Transvaal (soos dit toe bekend was), prof. J.H. Jooste en sy gade, die gaste by die geleentheid van die 50-jarige bestaan van die skool. ’n Luisterryke en aanskoulike program is aangebied, koorsang, massagimnastiekvertoning en ’n vertoning deur die erewag en kadetorkes! (’n Mens kan tereg vra: wat het in die afgelope klompie jare in ons mooi land gebeur dat al dié tradisies en opvoedkundig-dissiplinêre aktiwiteite net geskrap is?)

By die ingebruiknemingsgeleentheid het prof. J.H. Jooste die gedenksteen gelê. Die skool het met militêre presisie sy drilpeloton en kadetorkes op die nuwe velde laat optree. Die dag het nie nét massagimnastiek opgelewer nie, maar ook boeresport: in die toutrekkompetisie het die onderwysers korte mette gemaak met die matrikulante – tot laasgenoemde se grootste teleurstelling. Die hoogtepunt vir baie mense was die rugbywedstryd tussen die matriekspanne van HTS en Middelburg Hoërskool. Soos dit nou nog is, was dit ’n naelbytriller. Vir 60 minute het albei spanne alles waartoe hulle in staat was, gegee om die oorhand te kry. Ná die eindfluitjie geblaas het, was HTS diep dankbaar om met die louere weg te stap: 13 teenoor 4. (Die vreemde telling wys hoe lank gelede dié wedstryd plaasgevind het).

Foto 14: Inwyding van die nuwe sportterrein word luisterryk met kadetorkes en erewag/drilpeloton gevier (Foto: Skooljoernaal)

Die bou van die pawiljoen en sportterrein was seker een van die grootste ondernemings wat personeel en leerders in die eerste 50 jaar van die skool se geskiedenis aangepak het!

“Sien jy ’n man wat waardig is in sy werk – hy kan voor konings staan, hy hoef nie voor geringes te staan nie.” (Spreuke 22:29) – soos in die skoollied “ter ere hou tot ons sterwe”.

Die tweede vyftig jaar word later in hierdie reeks artikels gedek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button