Die provinsiale bevelvoerder van die Valke se ernstige korrupsie ondersoeke, brigadier Danie Hall, het Donderdag sy kantoordeur op Nelspruit die laaste keer agter hom toegetrek.
Valke personeel het ’n erewag vir hom gevorm, terwyl hy by die hoofkantoor uitgery het.
Hy is ’n oudleerling van Hoërskool Piet Retief, waar hy kaptein van die eerste rugbyspan was.
Rugby was egter nie enigste sport waarin hy uitgeblink het nie, maar die 800m was ook een van sy gunsteling items.

Sy loopbaan begin in 1985 na matriek toe hy op Ermelo by die polisie aangesluit het.
“Ek het ’n draai gemaak in Hillbrow na kollege, voor ek teruggekom het na Mpumalanga toe.”
In 1991 word hy bevorder tot sersant, 1993 adjuadant offisier, 1994 luitenant, 1996 kaptein en vanaf 2000 is hy amper die helfte van sy loopbaan, 19 jaar, ’n luitenant kolonel, voordat hy in 2019 ’n vol kolonel word.
Twee jaar gelede is hy bevorder tot brigadier.
Wanneer hy op sy loopbaan terugkyk, sê hy sy mees opspraakwekkende saak was die .22 reeksmoordenaar van Piet Retief. (Lees berig elders).
Sy moeilikste saak?
“Die reeksmoordsaak, omdat hy aanhou moorde pleeg het en ons hom moes stop. Elke saak sonder leidrade is moeilik en wanneer jy dan die saak oplos, om vir familie geregtigheid te gee is ’n voorreg. Dit het altyd vir my satisfaksie gegee.”

Sake wat hy nooit opgelos het nie?
“Ek kan nie aan ’n spesifieke een dink nie. In ’n speurder se loopbaan sal daar altyd sake wees waaraan jy hard werk, maar nooit ’n deurbraak maak nie. Jy kan nie dat dit jou onder kry of definieer nie. As jy weet jy het alles probeer en steeds nie die verdagte vasgetrek nie, moet jy daarmee vrede maak, anders sal jy dit nie maak in hierdie beroep nie.”
Brig. Hall sê daar was uitstekende bevelvoerders in sy loopbaan.
“Ek het baie by hulle almal geleer en sal uit respek nie net een wil uitsonder nie.”
Leuse in die lewe?
“Moet nooit ooit opgee nie en behandel alle mense met respek.”

Hoe het hy oorleef?
“Omdat ek so ’n passie gehad het vir my werk, het ek geweet dit is ’n roeping. Al het moeilike tye gekom, dit sou verbygaan. Ek kan my nie indink hoe kan ’n polisiebeampte dit maak sonder Christus nie. Ek het aan Jesus vasgehou. Dan my vrou natuurlik. Ons het begin uitgaan toe sy in matriek was. Ek was ’n konstabel. Sy ken die lewe en was altyd daar vir my. Sy was my rots. My gesin en familie was altyd daar vir my. Dit maak dit makliker as die storms kom.”
Toekomsplanne?
“Ek kyk na ’n paar opsies in die privaatsektor”.
Mense wat hy wil bedank
“Almal wat ’n positiewe bydrae gemaak het in my lang loopbaan. Al my bevelvoerders. Dan my laaste bevelvoerder genl. maj. Nico Gerber, die provinsiale hoof van die Valke in Mpumalanga, wat my blootstelling gegee het as ’n senior offisier in die provinsiale bestuur van die Valke. Hy het my ’n paar keer aangestel as waarnemende provinsiale hoof wat ’n groot voorreg was. Elke aanklaer wat my sake deur die hof gesien het. Hier moet ek vir Ansie Venter, Erik van der Merwe en advokaat Marile van Heerden van die DOV-kantoor in Johannesburg uitsonder. Ek het nooit ’n saak saam met hulle in die hof verloor nie. My kollegas by die Valke. Ek was baie geheg aan hulle. Ons was soos ’n groot familie.”

Advies aan polisiemanne wat die stryd stry
“Integriteit is nie onderhandelbaar nie. Gee honderd persent vir al jou klaers. Die arm man wie se fiets gesteel is het alles wat hy besit verloor. Sy vervoer werk toe en terug. Geen assuransie nie. Sy saak is nie minder belangrik as ’n ryk man wie se sportmotor gesteel is nie. Moenie mense wie status het voorkeur gee nie. Wees daar vir almal.”
Stokperdjies?
“My werk was my stokperdtjie”.
Laastens
“Dit is belangrik om gebalanseerd te lewe. Maak tyd vir jou gesin. Al is jy besig. Daar is tye wat familie voorkeur moet kry. Jy kan later werk opvang, maar as jy jou kind se netbal of rugby gemis het, kan jy dit nie opvang nie. Ek het al baie keer verlof ingesit as Wanda (sy vrou) verjaar om seker te maak ek was by die huis”.
Gunsteling gereg
Braaivleis met braaibroodjies. Roasted vegs. Droëwors. Woolies se gevriesde kaaskoek by spesiale geleenthede.
Gunsteling musiek
Die tagtigs se musiek bly my gunsteling. Ek hou ook van goeie Afrikaanse musiek.
Gunsteling vakansie
See en bosveld.
Gunsteling rugbyspan
Bulle en Bokke natuurlik.
Broertjie dood in…
Mense wat dink hulle het status en is beter as ander mense en dan ander met minagting of disrespek behandel. ’n Arbeider verdien dieselfde respek. En dan mense wat sperstrepe en rooi ligte verontagsaam.
Lees ook: Reeksmoordenaar het slagoffers met .22 afgemaai
