Reeksmoordenaar het slagoffers met .22 afgemaai
Boer herken verdagte nadat skets op Police File gebeeldsend word
Daar is altyd een saak wat ’n polisieman tot sy dood sal bybly, of dalk twee…Vir die afgetrede Valke bevelvoerder, brigadier Danie Hall, is daardie saak sy eerste moordsaak op Ermelo.
“Dit was ’n wrede plaasaanval en die verdagte het na Johannesburg toe gevlug.”
Die slagoffer is met ’n hammer in ’n stal doodgeslaan en sy vrou wreed aangerand.
“Ons het ’n ID-skets laat maak en het dit op die televisie program Police File geplaas.”
Ons het baie ure aan die saak spandeer
Die verdagte het op ’n plaas in die Nigel omgewing gaan werk en die boer het sy foto op televisie gesien en die polisie gebel.
’n Kollega is na die plaas gestuur wat bevestig het brig. Hall en die ondersoekspan het hulle man.
“Ek was so emosioneel dat ek gehuil het toe ons hom vang. Ons het baie ure aan die saak spandeer. Die beskuldigde het later die doodstraf gekry.
“Ondersoek is altyd spanwerk. Hetsy dit die PKRS-lid is wat wat DNS of vingerafdrukke op ’n toneel kry. Forensiese deskundiges wat doppies op die toneel verbind. Die hondemanne wat jou help. Die tikster wat jou verklarings tik. Jou aanklaer. ’n Ondersoekbeampte kan nooit ’n saak op sy eie oplos nie. Dit is nooit ek nie. Dit is altyd ons.”
“The saloon killer”
Nog ’n saak wat hom sal bybly, is die Piet Retief reeksmoordenaar of “the saloon killer”.
’n Taakspan het die moorde ondersoek saam met moord-en-roof bevelvoerder Koos Fourie.
“Ons het vir maande uit ’n operasionele kamer gewerk. Die gevoel toe hy gevang en gevonnis is kan ek nie in woorde beskryf nie. Hy is skuldig bevind aan 19 moorde, nege poging tot moord klagtes en talle ander klagtes. Die beskuldigde is gevonnis tot 20 lewenslange vonnisse en ’n addisionele 137 jaar. Hy was een van die land se grootste reeksmoordenaars, wat mense afgemaai het met ’n .22 geweer.
Werk van die ondersoekspan geprys
Regter CJ Claassen het na die saak ’n skrywe aan die nasionale kommissaris gerig, waarin hy die werk van die ondersoekspan geprys het.
In die skrywe het hy gesê: “In my loopbaan as regter het ek nog nooit soveel toewyding en deursettingsvermoë by die Suid-Afrikaanse Polisiediens gesien, soos in hierdie saak nie.
Na my memning is hierdie ’n teksboek voorbeeld van hoe ’n ingewikkelde saak ondersoek en vir verhoor voorberei moet word. Dit behoort aan alle aspirant speurders as die ideale norm van goeie speurwerk voorgehou te word.”
Lees ook: Erewag vir Valke bevelvoerder
