‘n Skielike maagkwaal het gelei tot die afsterwe van Lelanie Geyer (43) Sondag, met haar geliefdes om haar hospitaalbed.
‘n Dag wat ’n familie feesviering moes wees, is in rou gedompel met haar skielike afsterwe.
Dit was haar pa, Alexander van Niekerk se 70-ste verjaardag, maar die familie moes hul laaste totsiens sê.
Alexander het in ‘n baie hartseer onderhoud met Middelburg Observer vertel dat Lelanie sowat ses weke gelede oor maagseer begin kla het.
Sy is Vrydag net na middernag in die Life Midmed hospitaal opgeneem met klagtes van erge maagkrampe.
Tydens ‘n doktersondersoek was ‘n obstruksie in haar dikderm die moontlike oorsaak. ‘n Endoskopie is Saterdag gedoen, waarna ongeveer 600mm van Lelanie se dikderm tydens ‘n noodoperasie verwyder is.
Sy het egter toe reeds sepsis onderlede gehad. Haar stryd is Sondag beëindig met lewensonderhoudende masjiene wat afgeskakel is. Haar 9 en 12-jarige kinders was ook teenwoordig.
Haar man, John Geyer het Lelanie op die myn ontmoet, waar beide gewerk het 24-jaar gelede.
Hul passie vir kamp en die buitelewe het hulle aktief saam die kinders gehou.
Lelanie word oorleef deur haar ouers Alexander en Anet van Niekerk, haar man John, hul twee kinders, asook broers Alex en Mornè.
“Sy was die beste ma, en met haar liefdevolle geaardheid het sy oral vriende gemaak,” het Alexander droewig gesê.
Lelanie se Gedenkdiens vind op Saterdag 23 Mei om 11:00 by die Ou Apostoliese Gemeente in Zuidstraat plaas.
