Bekende gemeenskapsvrou, Alta Roux oorlede
Gemeenskappe van Middelburg en omliggende dorpe groet die week vir Alta Roux met swaar harte ná haar afsterwe op 21 Mei.
Die wêreld voel skielik stiller na die afsterwe van Alta Roux, wat Donderdag, 21 Mei, haar aardse reis voltooi het.
Dit volg nadat sy op 25 Maart vanjaar met ’n breingewas gediagnoseer is. Alhoewel sy slegs ses weke gegee is om te lewe, vind die familie vrede daarin dat sy rustig, in haar slaap, langs haar man, Andries Roux gesterf het.
Vol lewe met diep voetspore
Alta is in Kendal, Mpumalanga, gebore en het deur haar lewensreis onuitwisbare spore in Arnot, Hendrina, Ermelo en Middelburg gelaat.
Sy word oorleef deur haar man, Andries Roux, haar seun, ds. Tielman Roux, haar dogter, Ansie Coetzee, haar skoonseun, Christo, asook haar twee geliefde kleinkinders.
“Mamma was ’n fenomenale mens wat met haar leefwyse ’n ware voorbeeld vir ons almal was,” vertel haar dogter.
“Die impak wat sy op mense gehad het, was en sal altyd besonder wees. Dit wat sy in haar tyd op aarde bereik het, is waarlik merkwaardig.”

Geskiedenis en geloof stap saam
Buiten haar rol as vrou, ma en ouma, was Alta ’n vrou van vele talente. Sy was ’n landbouvrou, leier in die kerk, wêreld verkenner, passievolle fotograaf en het as gewilde skrywer onder die skuilnaam Adam Roux haar stories met lesers gedeel.
As ’n gerekende genealogiese navorser, was familiegeskiedenis vir haar veel méér as net ’n stokperdjie. Elke naam, grafsteen en dokument van toeka tot nou, het ’n menslike verhaal gedra wat verdien het om onthou te word.
Hierdie passie het gelei tot omvangryke navorsing en verskeie publikasies, waaronder, Driehonderd jaar later: Die nageslag van David Du Buisson in Suid-Afrika (2003) en Die Nageslag van Barend Pieters en Johanna Nel (2016).
Die GGSA-gemeenskap het hul hartseer oor haar gedeel op sosiale media, “Haar toewyding was besonders,”
“Ons sal nooit vergeet hoe Alta en haar seun in die vroeë jare honderde grafte en begraafplase afgeneem nie.”
’n “Wandelende woordeboek”
Familie en vriende onthou haar as ’n “wandelende woordeboek”. Haar algemene kennis was soos dié van ‘n ensiklopedie, vol feite, interessante stories en stukkies wysheid.
Haar vreugde was aansteeklik en haar liefde vir mense, opreg.

Of dit nou in die natuur, agter ’n kameralens, tussen ou dokumente, of by haar geliefdes, het Alta die lewe se kinkels en kabels met absolute grasie aangepak.
Begrafnisreëlings
Die viering van Alta Roux se lewe vind plaas op Woensdag, 27 Mei 2026.
Grafdiens: 09:30 by die kerkhof op die plaas Bosmanskrans.
Dankseggingsdiens: 11:00 vanuit die NG Kerk Hendrina.
Verversings: Direk ná die diens in die kerksaal.
