Dood in die Krugerwildtuin. Daar waar die vermoorde Igna Nortje se pa vir haar ’n herinneringstafel opgerig het. ’n Wildtuin wat vrede, rustigheid, kalmte en veral sorgeloosheid moet versinnebeeld. Igna is Saterdag 14 jaar gelede vermoor. Net soos die Marais-egpaar, Ernst (71) en Dina (73), met ’n “skerp voorwerp” doodgesteek.
Die gesin het na Igna se afsterwe, aansoek gedoen by SANParke om ’n tafel ter herinnering aan haar in te rig. “’n Mens loop met ’n bospaadjie tot daar en dit is die mooiste uitsig,” het haar pa, ST Potgieter, ’n paar jaar gelede aan die Middelburg Observer gesê. Op die sementtafel is daar ’n plaatjie met die woorde: “Enjoy my View” en Igna se geboorte- en doodsdatum.
Op mnr. Potgieter se WhatsApp profielfoto was daar drie foto’s. Een waar jy die uitsig en tafel kan sien, een van ’n plaatjie met ’n paar blommetjies op die tafel en ’n foto van ’n beeldhouwerk in Switserland wat “Emptiness” genoem word.

Die wêreldbekende beeldhouer, Albert György, het dit gemaak na sy eerste vrou se afsterwe.
“Daardie beeld is presies hoe ons as ouers voel. Daardie verskriklike gat in jou hart as jou kind gesterf het.”
Middelburg se geliefde oudioloog, is op 30 Mei 2012 vermoor. Sy is vanaf haar huis in Dennesig ontvoer, in haar BMW se bagasiebak ingedwing en uiteindelik op Verena, anderkant eMalahleni, doodgesteek.
Elke jaar in Februarie gaan die gesin wildtuin toe en dan weer op die dag wat hulle haar dood herdenk.
Die moordenaar slank gebou, sowat 1.65m lank, het prominente wangbene en het donker akneemerke op sy wange.
Op die dag van Igna se dood het haar moordenaar probeer geld trek in Middelburg, later in Stoffberg en hy is op Dennilton gesien deur ’n petroljoggie en ’n boer van Groblersdal. Die twee het gehoor hoe iemand in die bagasiebak skop, maar hy het weggejaag toe hulle hom konfronteer.

Haar moord is nooit opgelos nie. Daar is vele raaisels. Die moordenaar het niks uit haar huis gesteel nie.
Buiten ’n gaspistool, wat die moordenaar langs haar lyk neergegooi het, is daar niks anders gesteel nie en selfs die kar se radio was nog daar.
Sy is dieselfde aand dood in ’n sloot gekry, nadat sy verskeie kere in die keel gesteek is. Haar voertuig het net ’n klein entjie verder gestaan. Die ondersoek na haar moord was van die begin af gedoem, met twee onervare polisiemanne wat by joernaliste van die Middelburg Observer aangeklop het om inligting te bekom.
Tot vandag glo ervare polisiemanne dat dit ’n huurmoord was. En nou het die moord op die Marais-egpaar, Ernst en Dina Marais, naby Crook’s Corner in die verre-noorde van die Krugerwildtuin die land tot in sy fondamente geskok.
Skielik is die toevlugsoord vir afgematte mense nie ’n wildtuin nie, maar ’n plek van moord.
“Emptiness”… ’n Moord wat ’n verskriklike gat in jou hart los…
’n Egpaar wat doodgesteek is, soos Igna. Die angs. Die angs met elke messteek…
Emptiness, nie wildtuin nie…
