Blom waar jy geplant is! En dit is presies wat duisende jong Suid-Afrikaners reg oor die wêreld doen.
Een van hulle is ’n oud Laerskool Middelburg onderwyseres, Fransune du Toit.
Nadat sy derde geëindig het in die SeaWorld Dolphin Run, het sy die naweek aan die One Run in Abu Dhabi deelgeneem.
Die lenige oud Middelburger het die 10km wedloop in 43 minute voltooi, haar ouderdomsgroep gewen en tweede algeheel geëindig.

Die One Run is ’n wêreldwye hardloopgeleentheid waar duisende deelnemers van regoor die wêreld op presies die selfde tyd saam hardloop. en daarmee een groot wêreldwye hardloopgemeenskap vorm.
“Die wedloop het om 19:45 begin, wat beslis anders is as waaraan ons gewoont is, maar dit was so lekker aand alhoewel dit nogsteeds in die 30 garde was,” vertel sy.
“Die atmosfeer, die gemeenskap en om soveel mense saam te sien net vir die liefde van hardloop, het dit regtig spesiaal gemaak. Dit was net weer ’n herinnering om nooit te twyfel waartoe jy in staat is nie.”
