“Die Krugerwildtuin was lank vir my en baie ander mense nie net ’n bestemming nie, maar ’n argument dat hierdie land steeds die moeite werd is, steeds iets het om voor te bly, steeds iets het wat gered kan word.
As selfs daardie argument begin wankel onder die gewig van moord, kaping, korrupsie en staatsversaking, dan is die vraag nie net wat van die Kruger word nie. Die vraag is wat oorbly van ons geloof dat Suid-Afrika nog homself kan red.” ‘n Kragtige boodskap deur joernalis Izak du Plessis. Hy is een van duisende Suid-Afrikaners wat hulle skok en woede verwoord het na die moord op Dina en Ernst Marais van Mosselbaai in die Nasionale Krugerwildtuin.
Hy skryf: “Dit is vieruur. Sondag 24 Mei. ’n Naguiltjie se roep vloei soos klankdruppels deur die nag. En iewers in die veld gooi ‘n hiëna sy “wie-hoep”-seine uit in die donker op soek na die res van sy trop. Daar na Shitlhavedam se kant toe bevestig ‘n leeumannetjie sy opperheerskappy oor die bos. Dit streel my ongeduld wat nie kan wag om op te staan en reg te wees wanneer Pretoriuskop se hek sesuur oopgaan nie.”
“Ek wil oudergewoonte by Transportdam die nuwe dag gaan indrink met ’n stomende beker koffie.
“Hierdie plek is my vrede. Hierdie stukkie paradys is die een plek wat my nog in Suid-Afrika laat glo. Hierdie plek oortuig my dat ek nog in hierdie moerland moet bly. Dis my Kruger. Hier teug ek die idee van vrede, rus, asemhaal in. Hier vind ek skuilplek teen die boosheid wat elke dag deel van my werk is. Nou het daai boosheid kom nesskop in my paradys.”

Hy sê die ontdekking van twee toeriste se liggame in die Pafuri-afdeling het sy illusie aan skerwe geslaan.
Volgens Du Plessis was die waarskuwingstekens lankal daar. “Twee jaar gelede toe hulle ’n klompie motormuile van ’n sindikaat by Afslaan vasgetrek het, het ek op Nuuspod gewaarsku dat gewelddadige misdaad in die Kruger nie meer ver weg is nie.”
“In Oktober 2022 is die Duitse toeris Jörg Schnarr op die Numbi-pad naby die Kruger doodgeskiet tydens ’n mislukte kapingspoging. Die moord was só ontstellend dat daar onmiddellik oproepe gevolg het dat Numbi-hek gesluit moet word, juis omdat die gebied se reputasie as ’n misdaadbroeiplek al jare bekend is. Selfs die Amerikaanse ambassade het later sy burgers gewaarsku om Numbi-hek te vermy.”
Hy sê nog donkerder is dat die verval nie net van buite af kom nie. “Julian Rademeyer se “Landscape of Fear”-navorsing oor Groter Kruger stel dit onomwonde dat die park se dringendste uitdaging nie meer bloot renosterstropery is nie, maar interne korrupsie. Die navorsing beskryf ’n park wat ernstig geraak word deur gewelddadige georganiseerde misdaad, dalende vertroue, personeel wat deur sindikate beïnvloed word, en ’n stelsel waarvan die professionaliteit stadig afgebreek word.”
Nog ’n joernalis, Hennie van Deventer, skryf “die moorde op die Marais-egpaar, Ernst en Dina, albei in hul 70’s, naby Crook’s Corner in die verre-noorde van die Krugerwildtuin ruk my om verskeie redes selfs meer as ander sinnelose moorde. Dit voel of ek ’n betrokkenheid het, al het ek nie.”
Hy sê die Marais’s het geleef soos die Van Deventers die afgelope 28 jaar: wydsbeen met die een been in die bos en die ander by die see. “Waar ons in Sabiepark by die Krugerhek ’n bosplek het, was hul s’n in Raptor’s View in Hoedspruit.”
Volgens hom was moord in die wildtuin tot nou te verregaande om aan te dink. Marius Bakkes, ook ’n joernalis, sê op sy Facebookblad “Iewers in die Laeveld” dat die verrotting in die wildtuin bo begin en filter heeltemal af, nie net binne SANParke nie, maar oor die stelsels wat bedoel is om ons wildlewe te beskerm en mense aanspreeklik te hou.
“Wanneer leierskap waarskuwings ignoreer, kritici stilmaak en korrupsie beskerm, in plaas daarvan om dit te konfronteer, word die gevolge verwoestend. Verval soos hierdie gebeur nie oornag nie; dit groei jare lank wanneer goeie mense stilgemaak en harde waarhede begrawe word.”

Ander kommentaar op sosiale media die afgelope naweek was:
Koos Delport
Die begin en die einde van die Krugerwildtuin.
Brian Pienaar
Oos van Pafuri aan Mosambiek kant is ’n grenspos vir ingang na Mosambiek, die Ford Ranger was die teiken.
Hanneke Furstenberg
Dis so hartseer! Dis juis die plek waar ek die veiligste voel om vakansie te hou.
Jakes Johann Pretorius
Hoe?
Hoe?
Hoe?
In die wildtuin?
Hulle is dan so streng met sekuriteit?
Heleen Greeff
Daar is mos destyds ’n tipe deurpad oopgemaak sodat mense nie ’n ompad moes ry en makliker toegang tot wie weet waar kon kry. Dit was vir my vreemd en het altyd gevoel dis nie reg nie. Die wildtuin is die wildtuin en so moet dit bly. Hierdie moord is een droewige dag vir die wildtuin en vir ons almal wat so lief is vir die plek. Vandat ek 19 was is ek ’n baie gereelde besoeker en nou in ons sewentigs is ek baie bang om weer te gaan. Kroeks Corner het ons baie besoek want ons was baie lief vir die noordelike deel.
Nico Alberts
Ek neem ’n aantal gaste, wat Suid-Afrika besoek vanaf Engeland, in Junie na die KNP maar na hierdie voorval sal ek dit beslis kanselleer.
Ronel Serfontein
Kanselleer maar jou planne by die wildtuin… Hope internasionale toeriste gaan dadelik kanselleer.
Isabel Theron
Hierdie breek my hart. ’n Plek waarna ons toe gaan vir veiligheid en vrede… (my naaste plek aan die Hemel.)
So jammer vir hierdie mense, families en vriende.
