News

Is dorp se gewilde hawelose as armlastige begrawe?

Ons weet waar is Jonathan, maar waar is Johnny?

Is Johnny Bosman iewers as armlastige begrawe?
Nadat 21 mense twee weke gelede as armlastiges op Middelburg ’n laaste rusplek gekry het, word gegis dat dieselfde lot die dorp se gewildste boemelaar oorgekom het.

Die kleurryke ridder van die langpad het 10 jaar gelede verdwyn.
Dit is asof die aarde hom ingesluk het.
Die enigste afleiding wat gemaak word; hy is dood en iewers in ’n onbekende graf begrawe.

Vele mannewales

Daar kan natuurlik boeke oor Johnny geskryf word.
Veral joernaliste van die Middelburg Observer kan vele staaltjies vertel van sy mannewales.
Hy was ’n gereelde besoeker aan die redaksiekantoor.
Soms het hy opgedaag vir ’n koppie koffie, ander kere met ’n slim truuk fondse “ingesamel”.

Soos die oggend toe hy kaalvoet kom smeek het vir ’n geldjie, omdat sy skoene die vorige nag “gesteel” is.
Personeellede het later vertel dat Johnny lekker gelag het, toe hy by die voordeur uit is en met die note in sy hand, sy skoene onder ’n kar uithaal.

“Dis nou lekker”

Een nuwejaarsnag het hy by die Volle Evangelie Kerk se diens opgedaag, ’n groot sluk uit die nagmaalbeker gevat en geprewel “dis nou lekker”.
Nadat hy ’n koue wintersnag in ’n vuur geval en erg verbrand het, het hy die strate vaarwel toegeroep.
Na ’n paar maande in die Swartfontein rehabilitasiesentrum, het hy penorent in my kantoor gesit; pure predikant. Swart pak klere, skoongeskeer, die spore van drankverslawing uitgevee.

Maar net ’n boemelaar

En toe een oggend sit hy weer op die rusbank; pure boemelaar.
Het vir hom gevra; “en nou Johnny?”
Hy het my stip aangekyk: “Ag, ek is maar net ’n boemelaar”.

In 2013 het iemand sy broer, Johan, gebel en gesê dat hulle Johnny se sak by die Swaziland grenspos gekry het. In die sak was Johan se nommer en ’n Bybel.
Dit was die laaste inligting oor Johnny.

Vloot toe

Johnny is een van drie kinders en was 58 jaar oud toe hy reeds ses jaar weg was.
Sy pa, Bossie, was ’n provinsiale skeidsregter.
Johnny het matrikuleer aan Hoërskool Middelburg en was na skool ’n vakleerling by Thos Begbie. Hy was selfs ’n rukkie in die spoorwegpolisie en is daarna vloot toe.

In die tyd wat hy in Durban was, het hy ’n meisie ontmoet. Hy was dolverlief en het trouplanne gehad. Nadat sy hom vir ’n ander man gelos het, is Johnny strate toe.
En nou is hy al 10 jaar weg.
Weg sonder taal of tyding.
Hy kan uitgeken word aan die tatoeërmerk van ’n hond op sy kuit, en ’n brandplek op sy rug.

Die hond alleen is ’n storie en ’n half

Jonathan was Johnny se hoofbron van “inkomste” – lees dopgeld.
Hy het Jonathan geleer om toertjies te doen en het gereeld “vertonings” in die dorp se strate gelewer vir geld.
Maar die ouderdom het Jonathan ingehaal en hy moes deur die Dierebeskermingsvereniging uitgesit word.

Droewig gehuil

Johnny het sy hond innig liefgehad en dit was ’n tranedal toe die overmydelike oomblik aanbreek.
Johnny is daarna reguit na die Middelburg Observer waar hy droewig gehuil het.
Vandag weet ons waar is Jonathan.
Maar waar is Johnny?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button