News

Tweede Rooi Bulle senter beseer

Pumas mors met Valke in Cravenweek opwarming.

Dit is nuus wat HTS Middelburg eerstespan afrigter, Jano Venter, nie wil hoor nie.

Die Rooi Bulle se voorste speler, die senter Nathan Jansen van Vuuren, het vanmiddag ’n kniebesering opgedoen, tydens die Valke en Puma Cravenweek spanne se kragmeting by Hoërskool Middelburg se velde.

Jansen van Vuuren was in groot pyn langs die veld en dit het gelyk asof sy seisoen verby kan wees.

Hy het egter al vroeër die seisoen tydens die wedstryd teen Dr EG Jansen die veld op ’n draagbaar verlaat en is met ’n ambulans na die Life Midmed Hospitaal afgevoer, net om twee weke later sy terugkeer tot die speelveld te maak.

Die Pumas se aanvalle het grootliks om die groot senter gedraai en hy het ’n skitterende langafstand drie gedruk, toe hy onder die pale beseer is.


Hier kom Nathan! FOTO: Tobie van den Bergh.

Die Pumas was rustyd met 45-7 voor, met die eindtelling 59-19.

Indien Jansen Van Vuuren se seisoen ook kortgeknip is, sal dit die einde beteken van ’n briljante senterpaar wat die seisoen ’n groot verskil in die rooi trui sou maak.

Sy sentermaat, Jacques Greyling, is ook tydens die Dr EG Jansen wedstryd beseer, nadat ’n speler op hom geduik en sy milt geskeur het.

Na rustyd het die wedstryd teen die Valke uitgerafel en die Valke het die meeste van die speelwerk gedoen.

Nathan Jansen van Vuuren in groot pyn langs die veld. FOTO: Tobie van den Bergh.

Maar hou hierdie Puma span dop by die Cravenweek.

Daar is skitterende spelbrekers, nie net onder die agterspelers nie, maar ook onder die voorspelers.

Onthou die naam Vian Louw. Die Hoërskool Nelspruit agsteman het goeie hande, hardloop sterk, spring in die lynstane en breek soos ’n Bobby Skinstad.

Die finale Cravenweek groep gaan eers  later bekend gemaak word en daar sal gehoop word Jansen van Vuuren herstel betyds om sy talente by die week uit te stal.

Die Pumas se o/18 Akademie span het met  24-7 verloor en die Grant Khomo span het 28-21 gewen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button