News

O bok, kyk daai krok!

Inwoners lewe in vrees vir gediertes wat glo by poefaanleg skuil.

Inwoners van Leeuwfontein en Mamphokgo nedersetting leef in vrees na krokodilwaarnemings in residensiële gebiede, wat gelei het tot oproepe vir dringende ingryping van owerhede.

Twee krokodille is in afsonderlike voorvalle in Leeuwfontein gesien.

In die eerste voorval het SAPD-lede wat die gebied patrolleer, ’n twee meter Nylkrokodil teëgekom wat naby die Leeuwfontein-kruising rondgedwaal het.

Arthur Roden en sy dogter Lavelle, van Marble Hall, is omstreeks 00:45 gekontak om te help met die vangs.

Die krokodil is later in ’n nabygeleë veld opgespoor en gevang, voordat hy in die Schuinsdraai Natuurreservaat vrygelaat is.

Arthur het gesê die massiewe reptiel het sigbare merke op sy lyf gehad, wat vermoedelik veroorsaak is deur voorwerpe wat deur inwoners gegooi is.

“Die wonde het nie ernstig gelyk nie,” het hy gesê.

‘n Tweede krokodil is twee dae later gesien waar hy die besige pad by die Leeuwfontein-kruising oorsteek.

Arthur het gesê die reptiel is ver van die plek gesien waar die eerste krokodil was.

Inwoners vermoed dat die krokodille van damme by die plaaslike rioolaanleg afkomstig is, wat tans deur die Sekhukhune-distriksmunisipaliteit opgeknap word.

Gemeenskapslede beweer dat verskeie krokodille voorheen by die aanleg gesien is voordat konstruksiewerk begin het, en glo dat die voortdurende aktiwiteit die krokodille steur.

Sommige inwoners het ook gesê dat hulle karkasse van bokke en hoenders gekry het, wat vrese laat ontstaan dat die krokodille vee aanval.

‘n Krokodil in ‘n vanghok.
Doe krokodil wat in Mamphokgo gevang is, is weer vrygelaat.

Die opknappingsprojek by die rioolaanleg het in Maart begin en sal na verwagting in November voltooi wees.

Leeuwfontein-inwoner Moshe Mashilwane het gesê owerhede moet openbare veiligheid verseker terwyl werk by die aanleg voortduur. “Die kwessie van rondlopende krokodille hou ’n gevaar vir inwoners en diere in. Iets moet gedoen word,” het Mashilwane gesê.

Nog ‘n krokodil is in Mamphokgo nedersetting gevang deur ‘n gesamentlike poging tussen die Limpopo Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing en Toerisme en lede van die Rahlagane Tradisionele Raad.

Die krokodil is in ‘n hok vasgevang en veilig terug in die Olifantsrivier geneem. Daar word geglo dat die krokodil sedert verlede jaar in ‘n plaaslike dam in die dorp gewoon het.

Vir enige hulp met betrekking tot krokodilwaarnemings, skakel Arthur by 082 327 8482.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button