Daar is geduik, geskrum, gedruk én gebid….
Geen party poopers by hierdie rugby nie
Mens huil by begrafnisse, nie by die rugby nie.
Tog was daar soveel oomblikke wat die traankliere geprikkel het by die Mpumalanga laerskole uitspeelwedstryde, dat ’n traan of twee gereeld afgevee is.
“Manne, kom ons sê vir God dankie,” het een van die spannetjies se afrigters gevra, terwyl die spelers in sy arms gespring het.’

Terwyl ’n seuntjie met geboë skouers van die veld gestap het, nadat sy span verloor het, het Renier Harmse sy groot arms om hom geslaan vir vertroosting.
Negejariges het in ’n kringetjie op hulle knieë vir “Liewe Jesus” gebid.
Ja, daar is geskrum, geduik en gebid…
Die vreugde en blydskap alleen was tranetrekkers.

Wat die lekkerste van die twee dae se rugby was, was dat daar nie party poopers was nie.
Geen televisie skeidsregter wat ure vat terwyl almal moet wag nie, geen geel of rooi kaarte nie.
Op ’n stadium het ’n spannetjie aanhoudend oortree. Die skeidsregter het hard op sy fluitjie geblaas, die span se afrigter nader geroep, wat ’n kans gekry het om vinnig vir sy span te verduidelik waar oortree hulle. Probleem uitgesorteer.
Die balhantering van kaalvoet seuns was verstommend.
Die gehalte van die skeidsregters indrukwekkend.
Wanneer jy naar is vir stamp- en stootbrugby en TMO’ gaan kyk kaalvoet rugby.
