Dit is winter maar Middelburg en eMahaleni het gisteraand gaan slaap, met donderweer wat oor die hoëveldse vlaktes rammel.Dit was ’n pure somersaand!
Behalwe vir die winterkoue wat gebyt het, het dit geklink soos ’n tipiese donderstorm in die somer.
Alhoewel verskeie weervoorspelling bulletins reën voorspel het, het daar nie ’n druppel in Dennesig geval nie.
Inwoners het ook lustig foto’s rondgestuur van die “sneeu” wat in die Long Tompas geval het.
Dit was egter nie sneeu nie, maar hael wat die pas in ’n sneeukombers verander het.
Die pas het wel in 2023 toegesneeu.
Long Tompas is tussen Sabie en Lydenburg wat gister ’n heerlike somersdag beleef het, met die kwik wat opgeskiet het na 23 grade.




Dit is ongewonde weerstoestande vir hierdie tyd van die jaar, midde in die winter.
Net so ongewoon is dit dat die Loskopdam steeds oorloop, terwyl die reënseisoen lankal verby is.
Julie is gewoonlik Middelburg se koudste maand, tog word ’n warm somersdag vir Maandag voorspel.
Soos die weer nou sy wispelturige kant wys, moet egter nie daarop staatmaak nie, Moeder Natuur kan dalk net weer vir ’n verrassing sorg.
