Senter wat milt geskeur het maak wonderbaarlike herstel
Jano Venter opgewonde om spelbreker terug te verwelkom.
Wonderwerke gebeur nog! Die bobaas Rooi Bul senter wie se seisoen verby was, nadat hy sy milt geskeur het, het sodanig herstel dat hy weer kan speel.
Jacques Greyling het die week vir ’n MRI-skandering gegaan, wat aangedui het dat die skeur in sy milt toegegroei het en die dokter het die groen lig gegee dat hy weer kan speel.
Dit is goeie nuus vir afrigter Jano Venter wat moet bontstaan om die span te kies, met ’n rits beserings.

Hy sê Greyling voel goed en is opgewonde om weer die rooi trui oor sy kop te trek, nadat hy vroeg in die seisoen teen Dr EG Jansen van Boksburg beseer is.
Hy is op die plaasvervangerbank gekies, vir Saterdag se Noordvaal Virsekerbeker wedstryd tuis teen Oos-Moot van Pretoria.
Intussen maak sy sentermaat, Nathan Jansen van Vuuren of Boepens vir sy spanmaats, ook goeie vordering, na ’n ernstige kniebesering in ’n wedstryd vir die Pumas.
Hy gaan dalk vroeg volgende jaar reeds vir HTS Middelburg kan uitdraf.
Dit is belangrik vir die Rooies om Saterdag te wen, want die twee top spanne, Zwartkop en Nelspruit, wag nog op hulle.
