Middelburg treur oor skielike dood van John Stanton ná botsing
Skok oor dood van John Stanton (61), eienaar van ’n bekende skoolvervoer besigheid.
Die Middelburg-gemeenskap is skok na die dood van John Stanton (61), die eienaar van ’n bekende skoolvervoerder besigheid, wat gister (23 Julie) in ’n motorongeluk in Totiusstraat gesterf het.
John Stanton, wat saam met sy vrou Amanda die vervoerbesigheid bedryf het, was onderweg om leerders op te laai toe die noodlottige ongeluk kort ná 06:00 plaasgevind het.
Nooddienste is na die toneel ontbied, terwyl Totiusstraat vir ure gesluit was terwyl die toneel ondersoek is.
Volgens Amanda is die familie steeds in skok en weet hulle nog nie wat die ongeluk veroorsaak het nie.
“Ons weet nog nie wat gebeur het nie. Alles voel nog onwerklik,” het sy gesê.
John sou Maandag, 27 Julie, sy 62ste verjaardag gevier het. Amanda het vertel dat sy en haar man dieselfde verjaarsdag gedeel het, wat die verlies vir haar nóg moeiliker maak.
Dié egpaar was net 14 maande getroud.
John was oorspronklik van Emalahleni en het ongeveer twee jaar gelede na Middelburg verhuis. Hy en Amanda het sedertdien bekende gesigte geword deur daagliks leerders veilig na en van skole te vervoer.
Die oorsaak van die ongeluk word steeds ondersoek.
Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.
Lees volgende week in die Middelburg Observer meer oor John se lewe en die nalatenskap wat hy in die gemeenskap agterlaat.