News

Twee verjaardagkaartjies bereik nooit hulle bestemming nie

Gewonde soldaat keer terug na operasionale gebied

Twee jong soldate se verjaardagkaartjies was reeds gepos.
Korporaal Phillip Lombard sou op 20 Augustus 1982, 20 jaar oud word. Skutter Anton Kruger se 22ste verjaardag was op 23 Augustus 1982.
Maar toe sterf hulle saam met 13 ander soldate in ’n Puma helikopter, wat deur vyandelike vuur afgeskiet is op 9 Augustus 1982.

Twee weke pas

Dit was nie skutter Kruger se eerste kontak nie. In Mei daardie jaar is hy in die arm gewond en moes by sy ouerhuis by Van der Merwestraat, Clubville, kom aansterk.
Albei was lede van 1 Valskerm Bataljon op Tempe, Bloemfontein.
Die Kruger gesin het verskriklik uitgesien na hulle seun se twee weke pas wat op 29 Julie 1982 sou begin, maar nooit gebeur het nie.

“Neem uit die lewe wat die lewe jou bied, terwyl jy nog daar is”

Sy operasionele diens sou op 10 September eindig en hulle dienspligtydperk was die einde van 1982.
Anton was ’n leerling aan Middelburg Primary, het aan Hoërskool Middelburg matrikuleer en was reeds ingeskryf by die Pretoria Technikon om in tandheelkunde te studeer.
Sy lewensfilosofie was “neem uit die lewe wat die lewe jou bied, terwyl jy nog daar is”.

Johnny Kruger is een van Middelburg Buiteklub se legendariese gholfspelers. Sy seun, Anton, het in die grensoorlog gesneuwel. FOTO: Facebook.

Anton was die enigste seun van Johnny Kruger en was net soos sy pa dol oor gholf, het Oos-Transvaal kleure in landloop verwerf en het ook muurbal gespeel.
Phillip het sy laerskoolloopbaan in 1975 aan Laerskool Staatspresident CR Swart voltooi en was vir drie jaar verbonde aan Hoërskool Hoëveld Morgenzon, voordat hy by HTS Middelburg aangesluit het.
Hy het die bynaam “Fly” gehad, omdat hy so ’n skitterende middelafstand atleet was, wat veral in die 3000m en 1500m uitgeblink het.
Hy het Oos-Transvaal 12 keer as landloopatleet verteenwoordig.

Staatmaker

Die Middelburg Observer het in 1982 berig “Phillip was ’n staatmaker in die skool se padaflosspanne wat een jaar al die padaflosse in die provinsie gewen het.
“HTS Middelburg sal die stil seun altyd onthou vir sy mooi, nederige geaardheid en die deursettingsvermoë wat hy aan die dag gelê het. Sy maats kon altyd op hom staatmaak om in ’n spanpoging sy uiterste bes te gee.”
Hy was die seun van mnr. en mev. Danie Lombard van Rondebosch en het sy broers Danie, Renier en suster Esther agtergelaat.

  • ’n Storieaand word op 27 November 2026 in die AfriForum Teater gehou om verhale soos die van Phillip Lombard en Anton Kruger te herroep.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button