Onthou die naam Bowen Kruger!
Dié oud HTS Middelburg leerling het gisteraand ’n briljante vertoning gelewer in die Heartfelt Arena in Pretoria, tydens Versus se Fight Night 20.
Kommentators was dit eens dat die middelgewig kragmeting tussen Bowen en Thabelo Nemukula die geveg van die aand was.
Dit was een van die vroeë gevegte van 14.

Nemukula was ’n gevaarlike teenstander wat geweier het om op te gee, al is hy geskud deur Bowen se kragtige houe. Hy was twee keer op die planke, maar het verbasend opgestaan en voortgeveg.
Die swaaihoue wat hy gegooi het, sou enige teenstander planke toe gestuur het, as dit skoon sou tref.
En dit is net hier waar die Middelburger krytvernuf gewys het, deur klinies te veg en nie vir ’n uitklophou te gaan nie.
Veral in die laaste rondte het hy netjies sy reguit linker gebruik, om Nemukula van hom af weg te hou en net die geveg uit te sien.
Op daardie stadium het hy reeds die eerste twee rondtes gewen.
Dit was Bowen se tweede punteoorwinning nadat hy besluit het om voltyds in Pretoria te gaan oefen.
