Wat besiel enigiemand om op ’n fiets te klim en deur stof, wind, sinkplaatpaaie, son, reën, donkernag en moordende son, vir meer as 200 km te trap? En dalk die ergste – ’n sitvlak wat aanhoudend protesteer om so lank op ‘n fietssaal te sit?
Maar wanneer jou kop jou herinner “dit is vir die kinders”, is dit genoeg inspirasie.
As daar een woord is wat die Middelburg Care Riders beskryf wat oor twee weke aan die Munga-bergfietswedren deelneem, is dit “inspirerend”.
Die volgende week of wat gaan die Middelburg Observer elkeen se inspirerende antwoorde met lesers deel.
Moet dit nie misloop nie!
Miskien kry jy dalk net daardie bietjie motivering wat jou lewe gaan verander.
Dieselfde vrae is aan elkeen gestel en elke deelnemer het ’n interessante antwoord gehad.
Ons begin met Sarel Esterhuizen.
Skool: Fochville Hoërskool.
Ouderdom: 55.
Hoe lank ry jy al fiets? Lewenslank.
Hoeveelste Munga? Eerste.
Watter skof ry jy en afstand? Die derde skof van 198 km en die laaste skof saam met die span.
Wat gaan vir jou die grootste uitdaging wees? Min slaap.
Hoe benader jy die Munga? Baie tyd in die saal.
Waarna sien jy die meeste uit? Die kameraadskap van ons span. Elkeen bring soveel energie en samewerking.
Die minste? Dat alles binne vyf dae verby gaan wees.
Jou leuse in die lewe? Maak onthou-oomblikke bymekaar – die lewe is kort.
Jou grootste inspirasie? Ouer mense wat steeds aan sport deelneem, inspireer my, omdat hulle wys dat ’n mens nie moet ophou leef, droom en uitdagings aanpak wanneer jy ouer word nie.
Wat eet en drink jy tydens lang wedrenne? Ons as Munga Nashua Care Riders was bevoorreg om ’n borg van Start Well Foods te ontvang. As vegetariër en uithou-atleet is proteiëne uiters belangrik. Die proteiënpoeier en proteiënpap van Start Well Foods help vir die nodige aanvullings. Voor ’n wedren eet ek gewoonlik advokadopeer, sousboontjies en aartappel saam met ’n sterk koppie koffie. ‘n Magnesium-oplostablet, probiotika en vitamine B12 is my aanvullings. Ek gebruik maurten-gel en enduro-elektroliete op die fiets. Klein bederfies is pretzels en gummy bears.
Waarom vir die Care Riders? ’n Span toegewyde fietsryers wat saamstaan met een doel: om hoop, liefde en ondersteuning te bring aan kwesbare kinders.
Boodskap aan rusbankryers? Dis tyd om van die rusbank af op te staan en ons harte aan die werk te sit! Ons wil graag ’n beroep doen op almal wat lief is vir fietsry om deel te word van iets groter as net kilometers en fietsry. Ons het dalk nie almal dieselfde vermoëns of fietse nie, maar ons het almal iets besonders om te gee: ’n hart wat omgee! Kom ons wys dat ons nie net sterk bene het nie, maar ook groot harte. Rusbankryers, staan op, klim op julle fietse en kom trap saam!
Enigiemand wat jy wil bedank? My Munga-span, Middelburg Fietsryklub en die MCC Vets & Oldies saam met wie ek al baie kilometers afgelê het en my vrou, Yolanda, wat my die geleentheid gun om dit te kan doen.