Een Care Riders roos wil in Karoo blom
Met min slaap en 225 km se Karoo-paaie wat voorlê, pak Christine Wentzel haar eerste Munga-bergfietswedren aan om ’n verskil in die lewens van die kinders by Middelburg Care Village te maak.
Die roos tussen die Care Rider dorings hierdie jaar is Christine Wentzel (39).
Sy is deel van die Care Riders 2-aflosspan, wat van 25 tot 30 November aan die Munga-bergfietswedren deelneem. Sy gaan die tweede skof, ’n klipharde 225 km, aanpak.
Observer het by haar gaan aanklop, oor haar voorbereiding en die uitdaging wat wag.
Onderwys: Hoërskool Jan Viljoen en het deur UNISA BCom finansiële bestuur gestudeer.
Hoe lank ry jy al fiets: Vanaf 2018.
Hoeveelste Munga: Eerste.
Wat gaan vir jou die grootste uitdaging wees: Die onsekerheid van presies hoe laat ek gaan wegspring.
Hoe benader jy die Munga: Ek maak seker ek is goed voorberei, lekker tyd in die saal en het alles wat ek sal benodig op die fiets. Verder vat ek hom soos hy kom, alles gaan afhang van die weer en toestand van die paaie.
Waarna sien jy die meeste uit: Om die mooi sterrehemel te aanskou in die Karoo.
Die minste: Min slaap.
Jou leuse in die lewe: Doen net jou bes en Jesus sorg vir die res.
Jou grootste inspirasie: Om ’n verskil te maak in kinders se lewens deur te doen waarvoor ek lief is.
Wat eet en drink jy in lang wedrenne: Piesangs, Far Bars, gels, elektroliete, water en Coke.
Waarom vir die Care Riders: Hulle maak ’n groot verskil deur die fondse wat ingesamel word tydens fietswedrenne in die lewens van die kinders by Middelurg Care Village. Kinders is ons toekoms en dis belangrik dat alle kinders die geleenthied kry tot onderrig en om ’n verskil te maak in ons wêreld.
Boodskap aan rusbankridders: Dit maak nie saak hoe ver jy ry nie, wat wel saak maak is dat jy ry en die belangrikste is dat jy dit geniet.
Enigiemand wat jy wil bedank: Almal wat my ondersteun en bygestaan het. My grootste ondersteuner, my man.