Motoriste wat die afgelope paar weke verby die skool se hoofingang in Samora Machelstraat gery het, het gesien hoe daar stelselmatig ’n groot elektroniese bord net langs die A-rugbyveld verrys het.
En – verskoon asseblief die Engels – dit is nogal ’n cool toevoeging tot die Rooies se perseel.
Die bord van by die 16m² sal hoofsaaklik as telbord by die Cravenweek ingespan word. Dié nasionale hoërskoolrugbyweek word van 13 tot 19 Julie by die skool aangebied.
Soos die meeste aanbouings in die Dolf Jonker-era, is die bord egter meerdoelig. Buiten die telbordfunksie, kan dit ook videomateriaal hanteer. ’n Funksie wat perfek is vir hoogtepunte en kykweer-beeldsendings tydens die week.
Selfs gedurende gewone skoolwedstryde kan die Rooi Bulle se kameramanne hul televisiekameras só instel dat die aksie op die bord reflekteer. Boonop kan operateurs die tellings aan die rol hou vanuit die Glaskas – ’n gebou heeltemal aan die oorkant van die veld.
Nóg ’n meevallertjie is dat die bord 180° kan draai. Die beeld kan dus sigbaar wees vir verkeer in Samora Machelstraat en die skool kan die bord vir inligting- en advertensiedoeleindes aanwend.
“Inligting soos oueraande en wedstrydprogramme kan dan maklik vir die publiek sigbaar wees. Ons kan ook erkenning aan leerlinge gee deur byvoorbeeld die foto’s van die top 10 akademiese presteerders daarop te plaas,” het mnr. Dolf Jonker, skoolhoof, gesê.
Advertensies en bemarking sal ook gebeeldsend word, maar die hoofdoel is om skoolinligting aan die publiek te kommunikeer.
• Nashua is die borg van die elektroniese bord en as alles volgens plan verloop, behoort die bou- en oprigtingswerk Vrydag (vandag) klaar te wees.
• Ander aanbouings vir die Cravenweek is ook nou in die laaste pylvak. Finale afrondings aan die Glaskas en uitsaailokaal behoort binnekort voltooi te wees. Die week voor die aksie afskop, sal tente en stalletjies vir onder andere die verskillende borge en universiteite opgeslaan word.
“Ons is baie opgewonde oor die week. Dit sorg wel vir bietjie van ’n hol kol op jou maag, maar dit skep ongelooflike energie!”
•Die Middelburg Observer gaan ’n spesiale bylaag publiseer met alles en nog wat oor die Cravenweek. Adverteerders kan een van ons op en wakker verteenwoordigers bel, om deel te wees van die aksie.
