Spogsportvelde langs spoorlyn
Gilfillan Park sal die nuutste toevoeging tot HTS Middelburg se reeds indrukwekkende infrastruktuur wees.
Wanneer bouwerk voltooi is, sal die skool met twee splinternuwe rugbyvelde én ‘n krieketveld op die hoek van Gilfillan- en Pleinstraat spog.
Met die gewildheid van veral dogtershokkie wat toeneem, sal die skool se bestaande C- en D-rugbyvelde (in John Magagulastraat) geleidelik vir uitsluitlike hokkiegebruik aangewend word. Gilfillan Park sal dan die tuiste van die nuwe C- en D-rugbyvelde wees met ‘n B-krieketveld wat deur groen bome omring word en palissade omhein is.
Die skool sal uiteindelik oor vier hokkievelde, vier rugbyvelde en twee krieketvelde beskik.
Volgens mnr. Dolf Jonker (hoof) word daar beoog om die twee rugbyvelde reeds in 2015 as oefenvelde aan te wend. Dit sal egter twee tot drie jaar neem om die velde 100%-wedstrydgereed te kry en om die finale afrondingswerk te voltooi.
Die grondwerk is egter reeds gedoen en die meeste van die bome is behou, wat ‘n lekker atmosfeer aan veral die krieketveld sal verleen. So van krieket gepraat: dit gaan ‘n réúse veld wees en ‘n kolwer sal behoorlik die langsteel moet inlê om ‘n ses te slaan.
Met dié verwikkelinge kan HTS Middelburg in die voorsienbare toekoms lag-lag die uitspeelwedstryde van groot sportbyeenkomste soos die TUKS-reeks aanbied.
•En as daar ‘n pawiljoen opgerig word kan kommentators praat van die Spoorwegkant van die pawiljoen want die velde is neffens die spoorlyn geleë.
