Daar hardloop nie net waterbokke en koedoes op die dorp rond nie, maar ook Kwaggas.
Kwaggas met ’n huppel in die stap.

Middelburg Junior Rugby se spannetjies staan as die Kwaggas bekend.
Wanneer daar in die aande by Hoërskool Middelburg se velde geoefen word, is die entoesiasme van afrigters en seuns tasbaar.
Maar die geboorte van die Kwaggas was vol slaggate, wat die aanvanklike drome van Jakes van der Merwe tot stilstand laat knars het.
Na die stigting van die klub, onder die vaandel van Middelburg Rugbyklub, was daar groot opgewondenheid en tot 400 seuns het by die eerste oefening opgedaag.
Die Covid-pandemie het egter veroorsaak dat daar nie oorgrens gereis kon word nie en wedstryde was daarmee heen.
Daarmee saam het belangstelling getaan en die klub het doodgeloop.

Renier Harmse, wat by verskeie jong sportentoesiaste se afrigting betrokke was, het voorgestel hulle moet nog een keer probeer om die junior klub te laat herleef.
Vandag speel die Middelburg Junior Rugbyklub onafhanklik met die visie van “passie vir rugby, om vaardighede te verbeter, spanwerk en selfvertroue in jong spelers.” Ouderdomme 7-13 word verwelkom.
Die ses “champs’ soos die afrigters genoem word, moet nou bontstaan om tot 60 o.8 seuns op ’n aand besig te hou.
Elke “champ” is verantwoordelik vir sy ouderdomsgroep se reëlings en vat eienaarskap van sy spannetjie.
Jacques van Niekerk rig die o.7 span af, Hennie Janse van Rensburg is betrokke by die o.8 span, Divan Kapp is die o.9 span se champ, Leon de Wet brei die o.10 span, Dickey Davel is by die o.12 span, Carel Calitz hanteer die o.11 span en Jakes die o.13 span.

Die champs werk egter nie in isolasie nie en ondersteun mekaar.
“Vir ons is dit belangrik dat die seuns die rugby geniet. Partykeer wil ’n voorry gaan senter speel en dan gee ons hom ’n kans. Ons speel nie wenrugby nie, maar ons wen omdat die Kwaggas dit geniet”

Die span is ook nie verniet die Kwaggas nie, want hulle poog om tipiese Barbarain rugby te speel.
Middelburg en Suidoos-Transvaal se eerste Springbok rugbyspeler, Polla Fourie, het natuurlik ook vir die Kwaggas uitgedraf.

Provinsies soos die Valke en Bulle kies al vir jare provinsiale spanne wat aan ’n nasionale toernooi deelneem.
Daar is ook nou ’n Mpumalanga Junior Rugbyvereniging met Jean Pieters van Nelspruit die voorsitter.
Nelspruit Rugbyklub het aangekondig dat hulle Donderdag, 23 Julie, om 17:00, die Kudu Kids Junior Klub gaan stig vir spelers vanaf o.9 tot o.18 jaar oud.

Die Kwagga bestuur bestaan uit Jakes van der Merwe as voorsitter, Carel Calitz die onder voorsitter, Melissa Ludeke as sekretaresse en Elona Kapp die tesourier.
Ledegeld is net R700 per jaar en alle skole se spelers is welkom.

Merkwaardig is dat 12 van die provinsiale laerskole verteenwoordigers vir die Kwaggas speel, met net een nie ’n “stripe tribe” nie.
Die Kwagga konsep is so suksesvol dat daar beplan word om dit ook na Mhluzi uit te brei.

Goeie nuus vir die dorp se meisies is dat daar dalk ook op dieselfde grondslag Kwagga netbal gespeel gaan word.


Die volgende Kwagga tuiswedstryd is op 15 Augustus by Hoërskool Middelburg.

