32-33 in naelbytstryd…
'Só naby, maar tog só ver,' sê mens gewoonlik as jou oorgewig tjommie die laaste koekie voor jou neus uit die blik opraap, of wanneer jy 34% vir jou Lewensoriënteringklastoets gekry het.
Maar gister het hierdie sêding ‘n letterlike betekenis op die sportveld gekry, toe die Pumas net-net met 32-33 teen die Westelike Provinsie in Maandag se Cravenweek-hoofwedstryd verloor het.
Die Pumas het binne vyf minute twee vinnige strafskoppe afgestaan en die WP se Tiaan Swanepoel het die tuisspan skade berokken waar dit die seerste maak: op die telbord.
Een van sy strafskoppe was nogal ‘n monsterpoging van die middellyn af.
HTS Middelburg se Barend Smit het egter met een van sy kenmerkende kraglopies deurgebars vir die eerste drie van die wedstryd. Muller Joubert se doelskop was suksesvol en die Pumas het die voortou geneem.

Swanepoel en Joubert was daarna elkeen nog suksesvol met ‘n strafskop, voor Oscar Schuld die eerste van die Pumas se twee geelkaarte in dié helfte op die hals geloop het.
Schuld is vir ‘n gevaarlike duikslag van die veld gestuur, terwyl Driaan Bester homself ongelukkig kan ag om tien minute later vir ‘n professionele oortreding afgestuur te word. Mpumalanga se mense gaan skeidsregter, Jaco Kotze, beslis nie wegstuur met ‘n kaartjie van seënwense nie.

Die WP het in hierdie tydperk behoorlik amok gemaak en 21 punte aangeteken danksy ‘n drie deur Jaco Willemse en twee deur Duncan Saal. Kort voor rustyd het die Pumas gewys dat hulle nie Saal (!) lê nie en Mfundo Ndlovu het deurgehardloop vir ‘n drie.
Die Ndlovu-drie was duidelik die broodnodige momentuminspuiting wat die Pumas benodig het en met die terugkeer van Schuld en Bester, het die tuisspan met hul puik herlewing in die tweede helfte begin.
Duikslae was suksesvol, hantering was bobaas en aanhoudende aanvalle was aan die orde van die dag. Toe Stephan Enslin in die 65ste minuut druk, was die telling skielik 25-33 en die Puma-jakkalse was behoorlik los in die Kapenaars se wingerde.

Die Pumas het daarna op die WP se doellyn geboer en Bester het na volgehoue druk in die doodsnikke deurgebars om die telling 30-33 te maak, terwyl Joubert koelkop die twee ekstra punte bygevoeg het.
Die eindfluitjie het egter direk daarna geblaas, maar was hierdie wedstryd vyf minute langer, sou die Pumas hul week met ‘n sege afgeskop het.
• Opbreek van helftes:
Eerste helfte: 15-30 vir die Westelike Provinsie
Tweede helfte: 17-3 vir die Pumas
• Die Pumas het die driedrukstryd gewen (vier drieë teenoor drie), maar Swanepoel se vier strafskoppe was uiteindelik die verskil tussen die twee spanne op die telbord.

• Die Mpumalanga-manne speel weer Woensdag teen Kwazulu-Natal om 14:10. Snaaks genoeg volg hulle ‘n identiese Cravenweekpad as in 2013, toe hulle eerste twee kragmetings óók teen die WP en die Haaie was.
Pumas: Drieë: Driaan Bester, Barend Smit, Mfundo Ndlovu, Stephan Enslin. Doelskoppe: Muller Joubert (3). Strafskoppe: Muller Joubert (2).
WP: Drieë: Duncan Saal (2), Jaco Willemse. Doelskoppe: Tiaan Swanepoel (3). Strafskoppe: Tiaan Swanepoel (4).
