Sport

Munro is provinsie se beste blits!

Vars uit die PUK Rugby Instituut het Gerhard Munro in 2010 sy eerste wedstryd vir Middelburg Rugbyklub gespeel. Die 27-jarige het destyds op vleuel uitgedraf en dit was eers tydens 'n toerwedstryd in Zimbabwe waar hy kans gekry het om sy stempel op losskakel af te druk.

Vyf jaar later en Munro is ‘n aanwins vir enige span waarvoor hy speel; of dit nou die klub of die provinsiale sewesspan is.

Hy is juis verlede Vrydag tydens die Pumas se jaarafsluiting by Emnotweni Casino vir sy sewesvaardighede beloon, toe hy met die Unie se Sewesspeler van die Jaar-toekenning weggestap het.

Dié eer het hom in alle waarskynlikheid te beurt geval na sy skittervertoning tydens die Nasionale Seweskampioenskap in Nelspruit. Hoewel hy al deel van die Puma-planne tydens verskeie provinsiale reekse was, was dit sy eerste nasionale byeenkoms.

Munro was lid van ‘n Laeveld Pumaspan wat tot die halfeindstryd van die toernooi gevorder het en in die proses met gerekende teenstanders soos Vrystaat en Valke afgereken het, terwyl hulle die Blou Bulle en Westelike Provinsie laat sweet het vir hul naelskraapse seges.

Die blonde spelskepper het boonop die tweede meeste drieë (vyf) gedruk en is saam met spanmaats Louis Roos en Christiaan Els deur die All Stars genader om deel van die 2016 IRB Sewestoernooi in Las Vegas te wees.

Wat geniet hy deesdae die meeste: vyftienmanrugby of sewes?

“Dit is ‘n moeilike vraag…ek geniet altwee. Maar na die Mbombela-avontuur is sewes in die binnebaan. Mens word net al hoe meer bewus van al die vooraf-beplanning en strukture wat met sewes gepaard gaan, wat lei tot baie meer drieë. En jy word minder moeg!” laat weet hy Dinsdagmiddag telefonies.

Munro se sterk punte in die sewestrui is sy visie – nie net om self gapings te vind nie, maar om ander spelers deur gapings te stuur. Dan ook sy vermoë om onder druk te presteer. ‘n Stelling wat deur sy Middelburgspanmaat en Laeveldkaptein, Roos, beaam word.

“Gerhard is die ou wat moeilike wedstryde vir jou kan wen, trouens hy het die gawe om enige wedstryd vir sy span in die sakkie weg te bêre. Soos Naas Botha sou sê, hy is ‘n tipiese game breaker,” stuur Roos per WhatsApp.

Dit is egter nie net op die rugbyveld waar Munro uitblink nie.

Pas na hy saam die Middelburg Old Boys die Tens-toernooi by Pirates Rugbyklub gewen het, het hy sy eerste Warrior Race voltooi. Nogal die 21 kilometer se Black Ops-roete. En hy het in die vierde plek klaargemaak.

“Ek wil volgende jaar op sewesrugby konsentreer en dalk die Elite-afdeling van die Warrior Race ‘n probeerslag gee.”

Met sy vaardighede, sal Munro se verskeie rugbyspanne hom waarskynlik eerder in watte wil toedraai. Nog ‘n paar Munro-rugbyjare sal beslis vir ‘n paar sewesglimlagte sorg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button