Sport

Goed, beter, Bester!

Atletiek is in Paul Bester se bloed.

As jong skoolatleet het hy na sterre soos Johan Fourie – wie ‘n straatmyl onder vier minute kon kafdraf – en die internasionale atleet, Sebastian Coe, opgekyk. Sy afrigter op hoërskool, Johan Maree, het dié sportliefde net verder ontwikkel en Bester spog in sy hardlooploopbaan met nege permanente nommers van verskeie wedlope, ‘n rits Comrades-medaljes en 23 Loskopmarathons agter sy naam.

Maar dit is egter as administrateur waar hy die meeste doen vir die sport waarvoor hy so ‘n passie het.

Vandag is hy die president van Atletiek Mpumalanga, dien op Atletiek Suid-Afrika se Trail Running-komitee én is die voorsitter van Eskom Atletiekklub. O ja, hy is ook die beste in die provinsie.

Tydens verlede Donderdag se Mpumalanga Sporttoekenningsplegtigheid by die Banketsaal, is Bester as die Administrateur van die Jaar aangewys. ‘n Prestasie wat glad nie te versmaai is nie, veral as jy in ag neem dat hy teen sokker en ander ‘groot’ sportsoorte moes kompeteer.

” ‘n Suksesvolle administrateur is iemand wat deel is van die sport en wat belangstel in al die atlete – van die toppresteerders tot die sosiale atleet. Iemand wat saam lag en huil oor hul prestasies en die behoeftes van die atlete ken. Jy kan slegs ‘n top-administrateur wees as jy die ondersteuning van al jou komitees en atlete geniet. Daar is 47 klubs in die provinsie en almal werk saam om Mpumalanga een van die bestes in die land te maak.”

Tog is daar groot uitdagings aan dié werk verbonde.

“Mpumalanga het ‘n baie groot gebiedsarea en is in drie distrikte verdeel met baie afgeleë areas wat kommunikasie met atlete bemoeilik. Die federasie bestaan uit Baan en Veld, Landloop, Padwedlope en Trail Running, wat onlangs bygekom het. Dit verg groot beplanning om almal te beheer en te kontroleer.”

Bester het al met van die groot name in die Suid-Afrikaanse atletiektoneel gewerk – ouens soos Lindsey Parry en die ASA-president, Alex Skosana.

“Plaaslike sterre soos Deon Holtzhausen en Johan Oosthuizen deel altyd hul kennis en ervaring met almal wat hulle nader. Dan beplan ons ook in 2016 oefenkampe met Nick Bester, terwyl ons baan- en veldatlete opleiding van topatlete sal kry.”

“Atletiek is in my bloed. Ek sal graag wil hê dat almal op ‘n manier by dié sportsoort betrokke raak. Dit is die beste medisyne, werk beter as enige dieet en laat jou goed voel oor jouself.”

Dít is die woorde van ‘n administrateur wie se hart warm klop vir sy sport.

• Bester se raad om jong atlete by marathonklubs betrokke te kry:

* Neem kinders saam na die klubs se tydtoetse en ander aktiwiteite.

* Laat hulle saam met hul ouers aan pretdrawwe deelneem.

* Kry van die groot name in die atletiekwêreld om met hulle te kom gesels oor die sport.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button