Die “klein outjie” wat Suid-Afrika verteenwoordig het
Mosselbaai beleef drie Strydompies in een span
Ruan Strydom (46) was “’n klein outjie”, daarom het hy op hoërskool net aan atletiek en landloop deelgeneem.
Vandag spog hierdie oud Laerskool- en Hoërskool Middelburg leerling, met Suid-Afrikaanse kleure in driekamp.
Sy afrigters op skool was die puik landloop afrigter, Kobus du Plessis, en op hoërskool dr Henning Gericke, wat nie net ’n befaamde junior atleet was nie, maar later saam met Jake White die rugby wêreldbeker gewen het.
Die twee het gehelp dat hy provinsiale kleure in landloop verwerf. Na sy matriekjaar in 1997 studeer hy BCom Informatika aan die Universiteit Pretoria waar “die klein outjie” soveel lyf bykry, dat hy selfs koshuis rugby speel.

Driekamp gogga byt
Die driekamp gogga het hom 13 jaar gelede behoorlik beetgepak en hy het ingeskryf vir driekamp/Ironman kompetisies.
Vandag spog hy met drie volle Ironman’s en nege half Ironman’s.
Hy het Gauteng Noord by verskeie Suid-Afrikaanse driekamp kampioenskappe verteenwoordig in sy ouderdomsgroep.
In 2023 neem die oud Middie vir die Suid-Afrikaanse span as ouderdomsatleet aan die ITU (Internasionale Triathlon Union) wêreld kampioenskappe finale in Ponte Verde, Spanje, deel.
“Ek het ook in April hierdie jaar agtste gekom in my ouderdomsgroep by die Ironman Afrika kampioenskappe en is gekies vir die SA Moderne Pentathlon span wat aan die UIPM wêreld kampioenskappe vir Biathle/Traithle/Laser Run in Mosselbaai deelneem, van 8 tot 13 Desember 2025.”
Agter elke suksesvolle sportman staan daar ’n gesin
En in Ruan se geval is dit ook so.
Hy sê sy vrou, Melanie, is sy grootste ondersteuner en sy twee seuns, Werner wat 2026 in graad agt sal wees by Midstream College en Simon, wat in graad drie sal wees, neem net so entoesiasties deel.
“Ek en die seuns het verlede jaar met moderne pentathlon begin en ons geniet dit baie. Dit is immers een van die vinnigste groeiende sportsoorte in die wêreld. Dit bied ons die geleentheid om iets anderste te probeer. Die oefening is kort en hard; en darem nie so lank soos ’n 20ure+ oefenweek vir ’n Ironman nie. Ironman voorbereiding verg baie tyd en dit kan ook eensaam wees. Dit gee my ook meer tyd saam met die seuns – tyd gaan verby en ek waardeer elke oomblik. Die seuns sal ook in Mosselbaai deelneem aan die Biathle/Triathle/Laser Run dissiplines. Drie Strydompies in een span!”
*Ruan is ’n onafhanklike besigheidskonsultant wat betrokke is by SAP implementasies en besigheidprosesverbeteringe.
