’n Jong fietsryer gaan van Polokwane na die Kaap ry, om geld in te samel en vir bewusmaking vir kanker onder kinders.
Andru van Zyl gaan op 18 Desember vanaf Loskopdam deur Middelburg ry en plaaslike fietsryers beplan om hom tot in die dorp te vergesel.
Hy gaan ook die aand by ’n lid van die Middelburg Fietsryklub oorslaap en die volgende dag weer begelei word op sy tog na die verre Kaap provinsie.
Maar vanwaar sy inspirasie?
Andru was besig met sy eindeksamen by Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria, toe een van die graad agt leerlinge van die skool met kanker gediagnoseer is.
Hy was so aangegryp deur die nuus dat hy besluit het om namens Choc, Childhood Cancer Foundation South Afrika, ’n verskil te maak.
Daar en dan het hy begin om sy fietstoer te beplan en die wegspring is op 16 Desember 2025 in Polokwane.
Finale reëlings vir Middelburg fietsryers en waar om hom op die N11 te ontmoet sal later verskaf word.
