Fietsryer veilig in Groblersdal op pad na die Kaap vir kanker
Middelburg se ysterman bereid om Andru 'te gaan haal'.
Jy kan met hom oorlog toe gaan.
Hy is slegs 18 jaar oud en was vanjaar nog op die skoolbanke by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria.
Toe hy die skokkende nuus hoor van ‘n junior leerling wat met kanker gediagnoseer is, het Andru van Zyl besluit om ‘n verskil te maak. ‘n Verskil wat ‘n mens hoop gee vir die toekoms.

Andru simboliseer ons jeug se positiewe houding ten spyte van baie uitdagings in ‘n land waar misdaad en rassisme hoogty vier.
Hy het vanmiddag in versengende hitte in Groblersdal vanaf Polokwane aangekom en gaan die dorp moreoggend, Donderdag 18 Desember, om 5:30, verlaat vir Middelburg.
Na 50 kilometer moet hy die verraderlike Kranspoortpas oorsteek. Toe daar aan hom voorgestel is om sy bagasie in ‘n voertuig die pas op te ry, was sy antwoord: “Nee, oom, dan sou my integriteit in die gedrang kom.”
Dis asof hy die pyn van die kankerkinders, vir wie hy ry, saam met hom dra.
Amper soos in die fliek The Mission.
Middelburg Fietsryklub is genooi om saam met hom na Middelburg te ry, maar tot dusver het slegs Ysterman Cobus Fourie sy bereidwilligheid verklaar om Anru te ondersteun.
Hy vertrek om 6:00 vanaf die Dennesig-ingang om Andru op die N11 te ontmoet.
Andru sal Donderdagaand by ‘n lid van die Middelburg Fietsryklub oornag en sal die volgende dag weer vergesel word op sy reis na die verre Kaapprovinsie.
Andru trap om geld in te samel vir Choc, Kinderkankerstigting Suid-Afrika.
