Sport

Jong Paul se glimlag leef voort op spesiale medalje

Paul Bester jnr, die vriendelike jong man wat soveel mense se lewens aangeraak en weens Covid gesterf het, se lewe word gevier met die nuwe Paul Bester Jnr Memorial Run wat moreaand (Woensdag) vanaf die Hervormde Kerk, Noord, gehou word.

Al word dit die Paul Bester Jnr Memorial Run genoem, dra Paul en Johanita Bester hierdie wedloop ook op aan elke persoon wat, soos hul seun, weens Covid gesterf het.

Johanita kry trane in haar oë as sy vertel hoe vinnig alles gebeur het met die reël van dié wedloop.

“Vandat Theuns Luus vir ons gesê het dat die Dennies Nagwedloop nie meer aangaan nie, het alles net in plek geval. Ons het die wedloop twee weke gelede binne drie ure gereël en almal het aangebied om te help, sónder dat ons gevra het.”
Sy sê dat dit daarop dui, “dat dit van die Here af kom.”

Hul seun, Paul jnr, het tydens die pandemie weens Covid gesterf. Hy sou Sondag sy 33ste verjaardag gevier het. “Ons seun het gelééf en ons moet hom onthou. Hy het soveel impak op ander se lewens gemaak.”

Paul (president Mpumalanga Atletiek) en Johanita is al jare deel van Eskom Athletics Club. Paul jnr. was ook deel van dié klub en gereeld ’n beampte by wedlope.

Johanita sê dat hulle nie wou hê die wedloop in herinnering aan Paul jnr. moes ’n hartseer prentjie skep nie. Sy wil hê almal moet hom onthou soos hy was. Dit is hoekom Abigail Davies vir hulle die skets op die pamflet gemaak het met ’n laggende Paul jnr.

Die skets is geskep vanaf ’n foto wat Johanita destyds geneem het nadat Paul jnr. sy eerste 21km wedloop gehardloop het. “Dit was die Goldie Marathon op Standerton en hy was baie moeg, waarna hy sy tekkies uitgetrek het.” Die uitdrukking op Paul se gesig en sy altyd teenwoordige glimlag het sy ma se hart laat smelt en het sy dié spesiale foto geneem.

Die skets wat geskep is vir die pamflet vanaf Paul Bester jnr se foto. Foto: Verskaf.

Al die atlete wat die wedloop more-aand voltooi, ontvang ’n sleutelhouer as medalje. Op die sleutelhouer is daar ’n laggende gesiggie van Paul op.

Die medale (n sleutelhouer) met Paul Bester jnr se gesig op, Foto: Verskaf.

Atlete kan deelneem aan ’n 10km wedloop (R90) of die 4.9km (R50) pretloop. Tydelike lisensies (net vir die 10km) is beskikbaar teen R50.

Wegspring is om 18:30 vanaf die Hervormde Kerk, Noord-gemeente in Vygiestraat (Kanonkop).
Ds. Colin Hertzog het ingestem dat die wedloop daar gehou word, want Paul jnr. is destyds ook uit dié kerk begrawe.

• Johanita sê die wedloop is ook in herinnering aan elke ander persoon wat tydens die Covid pandemie gesterf het.

• Dit sal nou ’n jaarlikse wedloop wees, wat gehou sal word naby Paul jnr. se verjaardag en Eskom Athletics Club sal die gasheer wees.

Die finale pamflet wat opgestel is vir die wedloop. Foto: Verskaf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button