Twee oud hoofseuns slaags in Varsitybeker
Groot Ben van plaasvervanger na speler van die wedstryd vir Tukkies
Van plaasvervanger na die beginspan as losvoorspeler, na slot en toe speler van die wedstryd.
Ben Janse van Vuuren het in die eerste Varsitybeker wedstryd van die seisoen vir Tukkies teen die verdedigende kampioen, Ikeys, op die plaasvervangerbank begin.
Beginspan
Hy is daarna tot die beginspan bevorder as flank en het Maandag teen die Sentraal Universiteit vir Tegnologie van Bloemfontein op slot uitgedraf. Die groot oud Hoërskool Middelburg hoofseun was skitterend en is welverdiend as speler van die wedstryd aangewys.
Die ervare Christiaan Vlok het weer in die middelveld diens gedoen.
Tukkies was in ’n verwoestende bui en het met 78-17 gewen.
Ander uitslae
- Maties klop FNB Emeris met 55-20.
- Pukke was met 45-31 teen Shimlas baas.
- Ikeys het die Universiteit Johannesburg met 87-28 afgeransel.
Tukkies teen Pukke
Eerskomende Maandag se reeks wedstryde kan vir vuurwerke sorg, met Tukkies wat op Die Fanie teen die Pukke speel. Die wedstryd skop om 19:00 af en word op televisie uitgesaai.
Dit kan bepaal watter span is bo aan die punteleer met die Pretoriase studente wat net drie punte voor die Noordwes Universiteit is, 20 punte teenoor 17.

Die twee Kaapse aartsvyande, Ikeys en Maties, pak mekaar om 16:45 in Stellenbosch. Die wedstryd word op televisie uitgesaai.
Shimlas speel in Bloemfontein teen UJ om 19:00.
CUT of Sentraal Universiteit, pak Emeris ook om 19:00.
Punteleer
Ikeys het 15 punte op die punteleer, Shimlas 11, FNB Maties 11, Universiteit Johannesburg 11, CUT 2, Emeris 1.
Oud hoofseuns
Tjaart Joubert, wat Hoërskool Middelburg se hoofseun was in 2023 het as plaasvervanger vir Maties opgekom in die Tuks wedstryd waar Ben, ook ’n oud hoofseun, gespeel het.
Die oud HTS Middelburg losvoorspeler, Toy Engelbrecht, speel vir die Universiteit Johannesburg.
