Maak of breek vir gholfspelers by Serengeti
Korb ryg die voëltjies in op tweede dag van toernooi
Ruan Korb beleef ’n goeie dag tot dusver by die Serengeti Uitspele en is op -4 nadat hy reeds op die 16de bof afgeslaan het.
Hy het gister goed begin en baansyfer gespeel oor die eerte twee putjies maar op die derde twee houe afgestaan. Op die agtste het hy weer ’n voëltjie aangeteken. Dit is opgevolg met nog twee voëltjies op die elfde en sestiende putjie.
Hy het vandag weer op die derde ’n brouhou aangeteken nadat hy by die vorige putjie ’n voëltjie behaal het.
Na nog ’n brouhou het hy intussen vyf voëltjies op sy telkaart ingevul.
Seisoen nog nie verby nie
Met twee toernooie oor, is die Sonskyn Toer se 2025-26 seisoen nog nie verby nie.
Die Courier Guy Uitspele bring die voorste beskikbare professionele spelers op die Toer Courier Guy Order of Merit bymekaar vir ‘n twee-toernooi-konfrontasie – die Serengeti Uitspele en die DNi Toer Kampioenskappe aangebied deur RMB.
Kwalifiseer vir die DNi kampioenskappe
Hierdie week se Serengeti Uitspele by Serengeti Estates bied 3 000 punte, terwyl die DNi kampioenskappe by De Zalze Gholfklub aan die einde van Maart 5 000 punte bied.
By Serengeti is die top 60 beskikbare professionele spelers op die huidige Courier Guy Order of Merit vir die 72-putjie, geen halfpad afsnypunt skouspel nie. Hulle speel vir die reg om onder die top 50 professionele spelers op die Courier Guy Order of Merit te wees wat kwalifiseer vir die DNi kampioenskappe.
Plek in die Nedbank Gholftoernooi
Die wenner van die Courier Guy Order of Merit verdien ’n plek in die Nedbank Gholftoernooi.
Die voorste speler in die top 10 van die finale Courier Guy Order of Merit wat nie reeds status op die DP World Tour het nie, sal ’n kaart vir volgende seisoen verdien. Die volgende twee voorste spelers sal kaarte op die HotelPlanner Toer vir volgende seisoen ontvang.
Afgesien van die individuele toernooiprysfondse, sal die voorste drie spelers op die finale Courier Guy Order of Merit R500 000 (eerste plek), R200 000 (tweede plek) en R100 000 (derde plek) ontvang.
