Sport

Kwagga, JC en nou is dit baldief De Jager

Blitzbokke se kroon laat vreugdevure hoog brand op Middelburg

Eers was daar Kwagga, toe JC en onthou maar die naam Grant, Grant de Jager.
Dit is mos ’n lekkerte wat jou kleintoontjie laat omkrul, met een van ons eie seuns wat gisteraand saam met die Blitzbokke as die HSBC SVNS Sewesreeks kampioene gekroon is.
Net soos Kwagga Smith en JC Pretorius het De Jager hom onderskei as baldief by uitstek tydens die toernooi. En net soos Pretorius is De Jager ’n witkop.

Hy het soos ’n valk toegesak

Met Argentinië op die aanval in die halfeind, het die witkop Matie en oud Hoërskool Middelburg rugby kaptein, soos ’n valk toegesak op ’n losbal. Al kon Argentinië nie meer wen nie, het daardie steelslag gewys van watter stoffasie hy gemaak is.

Jong spelers ingespan

Blitzbok afrigter, Phillip Snyman, het nie geskroom om sy jong spelers in te span nie.
De Jager het verlede naweek sy eerste proesel Blitzbok rugby in Vancouver gekry en is die naweek weer goed ingespan.

The South Africa rugby team rejoices, lifting the trophy high after their victorious match celebration.
Grant de Jager vier die Blitzbokke se oorwinning teen Fidji en algehele reeks wenners. Hy staan tweede van regs met sy witkop. FOTO: SA Rugby.

Eerste drie

Hy het teen die Nieu-Seelanders sy eerste drie van die reeks gedruk.
Nadat die Blitse laat gisteraand op die podium met die trofee gespog het, nadat hulle Fidji in die eindstryd met 10-7 geklop het, was die witkop van De Jager duidelik sigbaar.

Daar is natuurlik kwaai wedywering onder die sewes voorspelers maar wees verseker dat die witkop nou nog meer honger gaan wees vir sukses na die naweek se New York-toernooi.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button