Tukkies se kampioene saam met Martin Bester op Jacaranda
Kampus kom tot stilstand wanneer Varsitybeker helde strate oorneem.
Queen sing:
We are the champions, my friend
And we’ll keep on fighting till the end
We are the champions
We are the champions
No time for losers
Cause we are the champions
Of the Varsity Cup.
Ok, Queen het nou nie gesing van die Varsitybeker nie, maar “champions of the world”.
Maak nie saak nie, Tukkies kan vergewe word as hulle voel soos wêreldkampioene.

More (17 April) gaan dit deur die strate van Pretoria weergalm, wanneer Tukkies met sy Varsitybeker-trofee deur die Jakarandastad se strate paradeer.
Tuks het Maandagaand geskiedenis gemaak, deur die NWU Arende van Potchefstroom met 31-3 in die Varsitybeker eindstryd in die LC de Villiers Stadion te klop. Hulle word die eerste span wat die trofee ses keer kon verower.
Dit is ook die tweede grootste oorwinning wat Tuks in die eindstryd behaal het. Die vorige rekord telling was die 2013 44-5 oorwinning oor Maties.
Drie Middelburgers was deel van die Tuks-groep.
Christiaan Vlok, oud HTS Middelburg senter, Ben Jansen van Vuuren (Hoërskool Middelburg agsteman) wat nie in die eindstryd kon speel nie, weens ’n skouerbesering en Luke Geldenhuys wat op sy dag ’n verskrikking was op vleuel vir Hoërskool Middelburg en deel was van die Tuks oefengroep.

Jansen van Vuuren, Grant de Jager, Tjaart Joubert en Geldenhuys was lede van Hoërskool Middelburg se 2022 eerste span. Geldenhuys het in 2023 ook saam met Joubert vir Hoërskool Middelburg se eerstes uitgedraf. In 2024 en 2025 was Geldenhuys lid van die Tukkies o/20 span.
Die klomp oud Middies is steeds groot vriende.
Die Varsitybeker feesvierings bereik more ’n hoogtepunt, wanneer die span op Martin Bester Radio Jacaranda FM se ontbytprogam is vanaf 7:00.
Om 11:00 ry hulle met ’n oop bus vanaf Tuks se Groenkloof kampus deur Hatfield met die feesvierings wat afgesluit word met ’n geselligheid by die Tuks Hatfield kampus.
Ja-nee, dit is Tuks of Niks!
