Nog voordat die fluitjie geblaas het vir die afskop van die 2026 Curriebeker seisoen, het ’n yslike slag die Pumas getref.
Ernstige kniebesering
Die span se mees ervare agterspeler, Clinton Swart, het ’n ernstige kniebesering opgedoen. Hy sal waarskynlik nie in die reeks speel nie.
Swart was nie net die spelskepper, planmaker en dodelike verdediger in die agterlyn nie, maar het ook as kaptein indruk gemaak.
Die Pumas skop hulle Curriebeker seisoen af met ’n kragmeting Vrydagaand teen die Haaie in die Mbombela Stadion.
Die Pumas het teen Dinsdag nog nie hulle groep bekend gemaak nie.
Met die groot unies wat hulle aptyt vir die Curriebeker verloor het, gaan dit waarskynlik weer seuns teen manne wees.
Jong en onbekende spelers
Die Blou Bulle het met die aankondiging van hulle Curriebeker groep reeds gewys dat hulle met jong en onbekende spelers gaan eksperimenteer.
Waar is die dae van Frik du Preez, Mannetjies Roux, Carel du Plessis, Danie Gerber, Louis Moolman, Thys Lourens, Rob Louw en sulke harde baarde, wat die reeks opgekikker het?
’n Ghriespomp van der Merwe, Domkrag Erasmus, Vleis van Zyl, Ertjies Durrheim, Vleis Visagie, Boerpens Strydom, Ghriepomp van der Merwe en Draadkar de Lange, wat die Curriebeker ikoniese status gegee het.
Nou kies die groot provinsies nie meer volwaardige spanne nie, maar vyftientalle onder die dekmantel van ’n Blou Bul en Westelike Provinsie.
Toeskouers het nie veel erg aan die wanbalans nie en stem met hulle voete.
As toeskouer lokaas is die Curriebeker gedoem.
Nie meer krag teen krag nie
Die rekordtellings waarmee die Pumas en Griekwas die laaste paar jaar gewen het, wys dat dit nie meer krag teen krag is nie.
Spanne soos Griekwas en die Pumas stoot ’n klomp hardebaarde in die veld.
Daar kan seker geredeneer word dat dit spelers ontwikkel maar toeskouers wil nie gaan kyk na “ontwikkelingswedstryde” nie.
En daar kan ’n saak uitgemaak word dat was dit nie vir Morgan Naude nie sou Jan Hendrik Wessels nie vandag ’n Springbok gewees het nie.
Naude het Wessels opgefrommel en uitgespoeg. Jake White het hom daardie aand in die Mbombela Stadion deur die skrumhel en terug gesit en vandag is hy een van Rassie Erasmus se voorslag Bokke.
Die naweek se Curriebeker bepalings is
Vrydagaand 17 Julie:
17:00 Pumas vs Haaie.
19:05 Westelike Provinsie vs Griekwas.
Sondag 19 Julie:
13:00 Vrystaat vs Leeus.
15:05 Boland Kavaliers vs Bulle.