
Die draaiboek is dieselfde, die akteurs verskil.
Miskien moet dit wees, die sirkus is dieselfde, die narre is nuut.
Na die eerste naweek se Curriebeker wedstryde verstaan toeskouers waarom Carling Black Label die reeks borg.
Net ’n oormaat Black Label sal die rugby wat opgedis is, meer verteerbaar maak.
Getjommel
Die Pumas het die getjommel teen die Haaie afgeskop, met een van sy swakste eerste helftes in ’n lang tyd.
Na ’n skitterende eerste vyf minute het die span in pienk rugby opgedis, wat afrigter Jimmy Stonehouse se are in sy nek laat bult het.
Swak!
’n Beter tweede helfte, nadat hy rustyd met 19-5, agter was het die eindtelling van 26-24 in die Haaie se guns beter laat lyk.
Die Haaie se sewe punte vroeg in die tweede helfte het die verskil gemaak, natuurlik saam met nog ’n laat strafskop.
Die Stormers XXIII het verras teen die hardebaarde van Griekwas om met 25-19 te wen.
Die beste wedstryd van die naweek was die Vrystaat Cheetahs teen die Leeus wat die Vrystaters met 27-29 gewen het.
By tye goeie rugby
Al het die Leeus verloor, het hulle by tye goeie rugby opgedis en gaan weer ’n faktor wees.
Wanneer jy met klubspelers en ’n klomp juniors teen die Boland Kavaliers in Wellington gaan speel, soek jy moeilikheid.
Soos verlede jaar het die sirkus in blou weer die trotse handelsmerk beklad.
Dit was ’n treurige vertoning met fout op fout, strafskop op strafskop.
Binne ’n paar weke gaan afrigter Phiwe Nomlomo weer soos verlede jaar geweeg en te lig bevind word en soos verlede jaar sal Johan Ackerman gevra word om in te gryp.
Klad op ’n handelsmerk
Die Bulle het verlede jaar net twee van sy ses wedstryde gewen en kon nie na die uitspeelrondtes deurdring nie.
Praat van klad op ’n handelsmerk!
Buurman van Zyl draai in sy graf om en strydosse soos Thys Lourens, Naas Botha, Moaner van Heerden, Adolf Malan, Frik du Preez en Mof Myburgh sal hulle skaam.
Bulle ondersteuners is besig om hulle geduld te verloor met die Loftus hiërargie.
Die Bulle is jaar na jaar strooijonker in die Verenigde Rugby Kampioenskap, word verneder in die Curriebeker en spelers word gekoop wat lankal hulle vervaldatum bereik het. Lees Jan Serfontein.
Daarenteen is die Leeus besig om iets spesiaals te bou met hulle jong spelers en die Stormers lyk na ’n span met ’n missie met die verkryging van Cheslin Kolbe en Wilco Louw se dienste.
Die Curriebekerreeks gaan hierdie week deur Suid-Afrikaanse rugby onder die loep geneem word.
Hopenlik kom daar oplossings want so kan dit nie aangaan nie…veral as jy ’n Bul ondersteuner is.
Naweek se bepalings
Vrydag 24 Julie 2026
17:00 Cheetahs vs Haaie. Toyota Stadion.
Saterdag 25 Julie
15:00 Leeus vs Pumas. Ellispark.
17:05 Griekwas vs Blou Bulle. Suzuki Stadion.
Sondag 26 Julie 2026
15:00 Boland Kavaliers vs Stormers XIII. Boland Stadion.
