Kanonvoet Viljoen Saterdag Wit Bulle se groot wapen
Middies tuis teen Monnas, Rooi Bulle pak Oos-Moot
Die Cravenweek is verby, die donderstorms weerklink nog oor die Bokkieweek, en dit is weer tyd vir die Noordvaal Visekerbeker.
Hoërskool Middelburg speel Saterdag tuis teen die magtige span van Krugersdorp, Monument, of Monnas, soos die skool alombekend is.
Een van die blinkste sterre
Onder die afrigting van die Springbok voorry, Jannie du Plessis, het die Wit Bulle met rasse skrede verbeter en is tans tweede op die bekerafdeling se puntelys.
Middies gaan egter nie net te doen kry met die Bokfaktor nie, maar met een van die blinkste sterre in Suid-Afrikaanse rugby, Jaydon Viljoen.
Die losskakel met die kanonvoet het reeds ’n kontrak met die Blou Bulle gesluit.
Hy het oornag ’n internetsensasie geword na ’n monster skepdoel van 60m teen Grey in Bloemfontein vroeër die jaar.
Viljoen word vergelyk met ’n Naas Botha en Frans Steyn.
Instrumenteel in skokoorwinning
Hy was instrumenteel in die SA Skole A-span se skokoorwinning van 34-33 oor die SA Skole op die Siya Kolisi-veld by Grey Hoërskool in Gqeberha verlede week.
Viljoen was suksesvol met twee doelskoppe en ’n strafdoel.
Behalwe Viljoen het drie ander Wit Bulle vir die o.18 Leeus Cravenweek-span uitgedraf. Ruan Genis, Blessing Monareng en Siya Ncube, was ook deel van die span.

Garsfontein gee die toon aan in die bekerafdeling met 29 punte, gevolg deur Monnas met 21, Noordheuwel 19, Waterkloof 16, Helpmekaar 14, Middelburg 12, Dr. EG Jansen 9, Menlopark 8, Rustenburg 5.
Hoop die krukkelys is korter
HTS Middelburg speel tuis teen Oos-Moot.
Nadat beserings die span geteister het, sal afrigter Jano Venter hoop die krukkelys is korter.
Die Rooi Bulle behoort dié een te wen, teen ’n span wat tweede laaste op die punteleer is.
Groot stryd
Nelspruit en Zwartkop is in ’n groot stryd betrokke om die wenners van die plaatafdeling te bepaal met die Laevelders op 25 punte en Zwartkop wat een wedstryd minder gespeel het op 19. Daarna volg Kempton Park 17, HTS Middelburg 15, Transvalia 13, Montana 11, Wesvalia 11, Oos-Moot 10 en Klerksdorp 3.