EntertainmentLifestyle

Loskop-Opskop bekruip dorp

Die Vallei se wintersonnetjie skyn lekker warm, die lande is groen onder die koring en die verwagting van lente se vars en nuutheid is in die nabye toekoms.

Daar is daarom nie ‘n beter tyd as nou om die heel eerste Loskop-Opskop te hou nie!

Is jy moeg daarvoor om stad toe te ry om jou gunsteling kunstenaars te sien?

Op 7 Augustus hoef jy net ‘n paar kilometer te ry om ‘n aand wat al jou verwagtinge sal oortref, by te woon.

In samewerking met die hoofborg Superspar en ander borge word van die grootste name in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf na jou voorstoep gebring.

Die immergewilde groep, Adam, het geen bekendstelling nodig nie. Met ‘n splinternuwe CD op die rakke, ‘n nuwe lid, Kyle Grant, optredes by die land se grootste feeste en ‘n verskeidenheid toekennings en benoemings is Adam een van Suid-Afrika se gewildste sanggroepe.

Saam met Adam sal die meisies van Mwah die winterkoue nog so entjie verder wegdryf.

Hierdie talentvolle groep meisies, een vanuit die Loskop Vallei, is jonk en vol energie. Hulle gewildheid is duidelik by enige partytjie, braai of konsert as “Sandra Prinsloo” eers begin.

Dit is dan ook baie lekker om ‘n unieke sanggroep vanuit die Loskopvallei deel te hĂȘ van die eerste Loskop-Opskop.

Coffee Snobs, ‘n Afrikaanse ligte “rock-groep” spog met talent wat vir min skrik. “Bly nog so bietjie”, een van die liedjies op Laurika Rauch se nuwe CD, is die werk van Vernette Wessels, een van die Coffee Snobs.

Saam met Marius Wessels en Johan Willemse, voormalige dromspeler van Jan Blohm en die Jo Martins band, beloof die Coffee Snobs ‘n interessante en unieke belewenis te wees.

Met die manne van Adam, die dames van Mwah en ons eie plaaslike Coffe Snobs sal die Loskop-Opskop vir ‘n aand sorg waaroor daar nog lank in Superspar se rye gesels gaan word.

Maar steeds is dit nie die einde nie: Om die lagspiere so bietjie te laat werk gaan die immergewilde Jonathan van Radio Raps, die dorp aan die lag kry met sy spitsvondige kwinkslae en opinies oor die allerdaagse dinge.

Jonathan het ‘n Internetsensasie geword met sy raad vir visvang, rugby, gimetiket en vele meer!

Met meer as een miljoen trefslae op Youtube is hy die snaakste mens in Afrikaans! Jonathan weet die kinders kom saam, so mamma’s hoef nie te vrees dat kleinboet se woordeskat dalk ‘n woord of twee sal verbreed nie.

Loskop-Opskop beloof om ‘n vars en ontspannende aand uit te wees wat nie gemis kan word nie. Die beste is, dis om die draai van jou huis en gaan jou nie ‘n arm en ‘n been kos nie.

Vergeet vir ‘n oomblik van die koue en winter se morbiede jassie en kom geniet ‘n fantastiese aand uit.

Die geleentheid vind plaas by die Hervormde Kerksaal in Springbokstraat, Groblersdal.

Kaartjies vanaf R130 is beskikbaar by die Daller se kantoor in die Supersparsentrum of kan direk bespreek word by Sunel 082 821 5911 of Retief 082 721 8730. Daar is verskillende prysgroepe so spring vinnig om die beste kaartjies te kry.

Vergeet sommer ook van “wat is op die spyskaart”, verversings word te koop aangebied vanaf 17:15 en vertonings begin stiptelik om 18:00.

Kom beleef saam ‘n Skouspel in jou Vallei, sien dat Afrikaans groot is hier op jou voorstoep, LoskopOpskop 2014, wees deel van die pret!

 
Back to top button