Baba langs vrou gesteel

'n Twee weke oue baba is reg langs 'n vrou van haar bed afgesteel, nadat die kind se pa toegang tot die woonstel vanaf 'n balkon verkry het.

Chaos het losgebars by die Ferreira Court Woonstelle (Hoogstraat) toe die negentienjarige vrou besef dat haar baba nie meer langs haar op die bed lê nie.

Sy vertel dat sy bedags slaap, omdat haar baba snags baie wakker is. “Hy het geweet ek slaap in die dag, dit is hoekom hy haar langs my kom vat het.”

Omstreeks 09:00 het die stilte in die kamer haar wakker gemaak, omdat sy gewoond is dat haar baba die hele tyd steungeluidjies maak.

Sy het opgespring en die hele woonstel deursoek, waarop sy die verlammende ontdekking gemaak het dat haar vervreemde kêrel se persoonlike artikels ook nie meer in die woonstel is nie.

Sy het by die voordeur uitgehardloop en vanaf die eerste vloer opgemerk dat haar vervreemde vriend reeds in die voertuig in die parkeerarea is en wil wegtrek.

Sy het met die trappe afgehardloop en oppad na die voertuig gesien dat ‘n ander jong man langs hom sit met die baba in sy arms.

Die oomblik toe sy by die kar kom, het sy die deur oopgeruk en van ontsteltenis die kind se pa met die vuis in die gesig geslaan. Daarna het sy die baba by die passasier gegryp.

Volgens haar wou die kêrel haar slaan, met die baba nog in haar arms. Hierna het hy haar byna onderstebo gery, toe ander inwoners van die woonstelblok na buite hardloop en iemand die radiogroep per radio gekontak het. Die passasier het só groot geskrik, dat hy uit die voertuig gespring en weggehardloop het.

Die vrou en haar ma (by wie sy bly) sê sy het die afgelope paar maande die hele tyd “gehoop dat alles sal regkom.” Die twee sê hy het ‘n “goeie geaardheid”, maar wanneer hy alkohol gebruik het, “dan raak hy soos ‘n kind!”

Hulle het hom verbied om alkohol in haar ma se woonstel te gebruik en “dan het hy daar onder gaan sit en drink.”

Hul babadogtertjie is op 24 September gebore en hulle was bekommerd oor sy drankmisbruik. Die vroue onthou dat hy eenkeer gesê het dat hy “nie meer pappa kan speel nie.” By ‘n ander geleentheid het hy klaarblyklik gedreig om die baba te vat en dat sy haar “nooit weer sal sien nie.”

Die vroue het gesê dat hulle vreesbevange is en nie eers meer die balkondeur kan ooplos vir vars lug nie.

• Die man het toegang tot die woonstel gekry deur teen die diefwering van ‘n woonstel op die grondvloer op te klouter tot op die eerste vloer, waar hy oor die reling geklim en by die balkondeur ingestap het.

• Die vroue het dieselfde dag ‘n interdik teen die 25-jarige jong man gekry, wat bepaal dat hy nie binne ‘n 100m van enigeen van hulle mag kom nie.

• Die betrokkenes se name word op versoek weerhou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button