Polisieman aangeval

'n Polisieman is hospitaal toe gejaag, nadat hy in die bors met 'n tuisgemaakte wapen gesteek is.

“Ek was baie gelukkig. As dit twee sentimeter hoër was, sou ek binne minute dood gewees het,” sê sers. Jan van Staden. Die wapen het sy hart rakelings gemis.

Sers. Van Staden en kaptein Renee Ballot het gereageer op ‘n voorval wat hom voor Hoërskool Middelburg se meisieskoshuis afgespeel het.

Die skoolhoof, mnr. Johan Stronkhorst, sê dat hy al vir ‘n geruime tyd bewus is van ‘n man wat snags vir hom ‘n skuiling bou in die parkeerarea langs John Magagulastraat, wat gewoonlik deur busse gebruik word.

Mnr. Stronkhorst, asook sekuriteitswagte van Titon Security, het al telkemale vir die man gesê dat hy nie op die terrein, en veral nie so naby aan die meisieskoshuis, kan slaap nie.

Die man het ingestem om te trek, mits die polisie hom kom haal, omdat hy glo ‘n appeltjie met hulle te skil het oor iets wat in 2006 gebeur het.

Hy is, vergesel deur polisiebeamptes, net voor 18:00 na die man. Hy wou nie met die swart polisiebeamptes praat nie en het uitgevaar teen veral die Mhluzi polisie, wat hom glo wou dood maak.

Hy het aan sers. Van Staden se versoek om sy besittings agter in die polisie vangwa te laai en na die Middelburg stasie te gaan, gehoor gegee. Oppad om sy goed te laai, het hy skielik met ‘n tuisgemaakte wapen op sers. Van Staden afgestorm.

“Ek het vir Renee gevra om my vuurwapen uit sy holster te haal, omdat ek bang was die ou kry hom in die hande.”

Kapt. Ballot het versterkings ingeroep en ‘n waarskuwingskoot met sers. Van Staden se vuurwapen afgevuur.

Nog twee polisiemanne het blitsvinnig op die toneel verskyn. Hulle het die stoeiende man met pepersproei gespuit in ‘n poging om hom onder bedwang te kry.

Sers. Van Staden het in die proses van die pepersproei in sy eie oë gekry. Toe hy sy oë met water uitspoel, het hy opgemerk dat sy hele hemp vol bloed is.

“Ek het glad nie gevoel toe hy my steek nie. Op ‘n stadium terwyl ek met hom gestoei het, het ek gevoel ek begin swaar asem haal, maar daar was geen pyn nie.”

Hy is dadelik na die Midmed Hospitaal gehaas, waar plate gewys het hoe gelukkig hy was om nog te leef. Die draad het al sy lewensonderhoudende organe rakelings gemis.

• John Maropane het Vrydag in die hof verskyn in verband met die voorval. Hy staar kriminele klagtes van poging tot moord en verset teen arrestasie in die gesig.

Hy sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning, waarna hy heel waarskynlik vir psigiatriese waarneming weggestuur sal word.

• Sers. Van Staden was Woensdag, ses dae na die voorval, weer op sy pos.

• Sersant Hennie Steyn is in November 2011 deur ‘n kranksinnige, Patrick Gumede, in die Middelburg Polisiestasie doodgeskiet, toe hy daarin geslaag het om sy wapen by hom af te neem. Gumede is self sekondes daarna doodgeskiet. Daar is na sy dood vasgestel dat alhoewel hy voorgekom het asof hy geestelik versteurd was, hy een van die mees gesoekte rowers in die streek was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button