Video: Egpaar verloor alles
Die dwelm egpaar wat in hul motor bly, staan nou onder 'n boom in Joubertstraat, skuins oorkant die balju kantore.
Rassie en Janetta is op verskeie plekke in Middelburg opgemerk. Dit blyk dat hul motor, wat ook hul huis is, intussen die gees gegee het.
Die voorste as word deur bakstene ondersteun en oral langs die motor lê daar bakkies en sakkies met skroewe en allerhande metaal deeltjies in.
Aan die anderkant van die motor staan ‘n piepklein braaiertjie. ‘n Maroen kombers lê opgefrommel op die gras tussen leë blikke Dragon Energy drankies. ‘n Swartsak wat oorlopenstoe vol is met nog van dieselfde blikkies, staan langs die kattebak. Iemand vertel dat hulle gesien het hoe die egpaar loop met ‘n kas (24) van die energie drankies.
Voor aan die motor se buffer is daar ‘n kragopwekker vasgeketting. ‘n Geel motorfiets, wat amper net so vervalle soos die Datsun motortjie is, blyk ‘n nuwe toevoeging tot die spulletjie te wees.
Rassie is nie baie lus vir gesels nie: “Gaan weg! As ek hier uitklim…”
“Wat dan Rassie?” vra die joernalis.
“Dan sluit hulle my vandag toe! Gee my net ‘n kans om my kar reg te maak en dan is ons weg.”
Sien video hier:
Oral waar die skugter Erasmus egpaar gaan, kla die mense. Almal wonder oor dieselfde goed: Hoe kry hulle dit reg om, selfs in snikkende hitte, die hele dag in hul motor, met die vensters net op skrefies oop, te sit? Waar bad hulle? Waar doen hulle hul besigheid? Waarvan leef hulle?
“Julle is almal so bekommerd oor die hondjie, wat van die mense?” het ‘n vrou verlede week tereg gevra toe daar berig is oor hoe Patrys, hul hondjie, deur die DBV weggeneem is.
Maar wat doen mens met sulke mense? Waarheen gaan jy met hulle?
Hulle het reeds by die Kibboets gebly vertel mense wat hulle ken. Die polisie is ingeroep om hulle daar te verwyder.
‘n Man van eMalahleni het vertel dat hulle vir ‘n rukkie in sy erf gebly het om hul motor reg te maak. Maar hy het onraad vermoed toe hulle die heeldag in hul motor gesit en dvd’s kyk het op ‘n draagbare dvd speler. Janetta het toe reeds met krukke geloop nadat sy glo in ‘n ongeluk was. Die been was blykbaar “vrot van die sweersel.”
Toe die man hulle vra om maar liefs hul ry te kry, het die egpaar by sy hek uit in die veldjie oorkant sy erf gaan parkeer. Janetta is kort daarna gearresteer vir dwelmbesit en Rassie is daarna in April vir die eerste keer in sy motor voor die Midwater vulstasie opgemerk.
“Ek weet waar jy bly!” dreig Rassie die joernalis Dinsdagoggend. As hy uitgevra word oor die dreigement bly hy stil. Hy wou nie sê waar hy die geel motorfiets gekry het nie.
• Die nommerplaat van die motor waarin hulle bly is nagegaan. Dit is geregistreer in die naam van ‘n I.O. Connol wat in 1938 gebore is en in Del Judor in eMalahleni bly. Die persoon kon nie opgespoor word nie.
• Gaan kyk na ‘n video hoe die egpaar bly op die webtuiste by www.mobserver.co.za
