Opvolg: Dokter begin geveg
'n Skokvideo wys hoe dr. Alan Kok die geveg begin wat later aanleiding daartoe gegee het dat mnr. Liam Niemandt hom met 'n mes steek.
Die video is hierdie week aan die joernalis vertoon. Dit kon egter nie aan die media beskikbaar gestel word om op die webtuiste te plaas nie, aangesien dit later as bewysstuk gebruik gaan word in die hof, sou enige van die partye aangekla word.
Dr. Kok is Vrydag met ‘n mes gesteek tydens ‘n geveg met mnr. Niemandt by die Niemandt’s se huis in Duiwelspiekstraat (Aerorand). Dr. Kok is in die Life Midmed Hospitaal opgeneem, met steekwonde in sy buik, arm en hand.
Mnr. Niemandt het ná die voorval aan die Observer gesê dat hy “niks het om weg te steek nie, omdat ek myself verdedig het. Ek wens my vrou wil insien dat ek haar en die kinders beskerm het.”
Ter aanloop tot die gebeure het mnr. Niemandt vertel dat hy uitgevind het dat sy vrou ‘n buite-egtelike verhouding het met dr. Kok. Vrydag het hulle wéér stry gekry toe mnr. Niemandt buite kom en sien dat sy vrou met dr. Kok oor die foon gesels.
Hy het die foon probeer afneem en sy arm het teen haar arm gestamp. Sy was nog op die foon besig met dr. Kok en het geskree: “Liam, jy maak my seer!”
Mnr. Niemandt sê hy het die foon afgeneem by sy vrou en vir dr. Kok gevra om haar met rus te laat. Volgens mnr. Niemandt het dr. Kok hom egter gevloek omdat hy kwansuis sy vrou aanrand. Hy wou nie luister toe mnr. Niemandt sê hy het haar nié aangerand nie en klaarblyklik geskree: “ek gaan jou doodmaak en Chantal en die kinders vat.”
Op die video kan gesien word dat die egpaar stry en dat dr. Kok kort daarna aangejaag kom. Hy kom vinnig aangestap en begin ruk aan die palissadehek. Sy vrou en hul tweejarige dogtertjie was saam met hom buite.
Die egpaar stap nader aan die hek en mens kan aan die gebare sien dat mnr. Niemandt dr. Kok vra om te gaan.
Dr. Kok begin wegstap, maar op daardie stadium stop me. Niemandt se ouers met hul voertuig by die hek (me. Niemandt het hulle ook kort vantevore gebel en vertel van die argument).
Die oomblik toe die hek oopgaan, kom dr. Kok met gebalde vuiste op mnr. Niemandt af. Die videomateriaal wys duidelik hoe hy mnr. Niemandt aan die hemp beetkry.
Mnr. Niemandt probeer hom wegstoot en ‘n mens kan sien dat hy geen dreigende houding het nie. Dr. Kok se hand skiet egter skielik vorentoe en hy gryp mnr. Niemandt aan die nek.
Tydens die hele konfrontasie kan gesien word dat me. Niemandt, haar ouers en hul tweejarige kind (‘n pasiëntjie van dr. Kok) die gebeure gadeslaan.
Op die manier wat dr. Kok opkyk, kan mens aflei dat hy besef dat die sekuriteitskameras alles afneem en hy sleep mnr. Niemandt aan die nek tot by die motorhuis (waar nie kameras is nie) en stamp hom by die deur in. Me. Niemandt se pa is kort op hul hakke.
Volgens mnr. Niemandt het hy verskeie kere tydens die gebeure vir dr. Kok gesê dat hy moet ophou, want hy is gewapen en gaan homself verdedig.
Nadat hy aanhoudend geslaan is, het mnr. Niemandt sy jagmes uitgehaal en dr. Kok daarmee gesteek “om hom van my af te kry.”
Mnr. Niemandt beweer dat dr. Kok egter nie opgehou het nie en hy op ‘n stadium in die gesig geskop is en daar ook ‘n besem op hom stukkend geslaan is. Eers later het die dokter besef hy bloei en mnr. Niemandt se skoonpa, mnr. Dirk Venter, gevra om hom hospitaal toe te neem.
• Sekuriteitsmateriaal wat net etlike weke vantevore geneem is, wys hoe daar ook ‘n argument tussen die egpaar was en mnr. Niemandt gery het. Dr. Kok het tydens dié geleentheid ook opgedaag met ‘n ander man wat saam met hom uitgeklim het.
• Op dié videomateriaal kan gesien word dat dr. Kok ‘n wapen aan sy sy het.
• Op dieselfde video tel hy onder andere die egpaar se dogtertjie op, soen haar en wys na die sekuriteitskamera. Hy trek ook me. Niemandt se kortbroek reg toe haar deurtrekkertjie wys terwyl sy buk om haar kind in die kar te sit.
• Om kommentaar te lewer op die berig, sms die woord “mes” na 37940. ‘n Sms kos R1.50.
